Local newsLocal sportNews

Vier van Secunda ryg medaljes in by wêreldkampioenskap

Volgende jaar se wêreldkampioenskap wink vir dié Secunda-atlete.

Dylan Harris (23), Naldo Cronjé (23), Michaela van der Merwe (23) en Doné-Cheree Steyn (38) het in November hul land in Spanje by die International Fitness and Bodybuilding Federation (IFBB) Wêreldkampioenskap verteenwoordig.

Dié vier het verskeie medaljes ingepalm. Cronjé en Harris het in die goueafdeling as ’n mansspan deelgeneem en vierde geëindig.

Cronjé het ook individueel in die goue- en silwer-fiksheidsafdelings onderskeidelik derde en tweede geëindig. Hy het ook saam met Van der Merwe in die silwerafdeling vir gemengde pare sesde geëindig.

Harris het individueel in die goue- en silwer-fiksheidsafdelings onderskeidelik vyfde en vierde geëindig. Hy en Steyn het in die gemengde pare-silwerafdeling sewende geëindig.

Van der Merwe en Steyn wou saam as ’n span inskryf, maar omdat daar nie genoeg ander vrouespanne was nie, het hulle met die twee mans in die gemengde pare-afdelings deelgeneem.


two women in South African sport wear
Doné-Cheree Steyn en Michaela van der Merwe by die IFBB wêreldkampioenskap in Santa Susanna in Spanje in November. Foto: Verskaf.

Van der Merwe het eerste geëindig in die junior-vroue-enkel-silwerafdeling en vyfde in die ope-vroue-enkel-goueafdeling, terwyl Steyn vierde geëindig het in die vroue-enkel-silwerafdeling en sesde in die meesters-vroue-enkel-goueafdeling.

Harris was die week na hul terugkeer vanaf Spanje reeds weer terug in die gimnasium, terwyl Cronjé ’n breuk gevat het, omdat die dokter gesê het die kompetisie was ’n bietjie hard op sy liggaam.

Cronjé het, vandat hy 15 jaar oud is, met sy gesondheid gesukkel en sy regternier is uiteindelik, toe hy 21 was, verwyder. Sedert dié operasie handhaaf hy ’n baie meer gesonde leefstyl, en hy het begin oefen en gesonder eet.

Dié twee vriende ry graag saam fiets en oefen saam, en slyp reeds hul tande vir die eerste fiksheidskompetisie wat in die middel van volgende jaar in Johannesburg plaasvind.

Hulle het die tyd in Spanje as ’n goeie ondervinding beskryf en gesê die kos daar was lekker, en die mense interessant. Van der Merwe en Steyn het besef hoe groot die verskil is tussen fiksheid en liggaamsbou.

“Die fiksheid gaan oor jou tegniek en hoe vinnig jy die oefeninge kan doen terwyl liggaamsbou net fokus op hoe ’n mens lyk,” het Van der Merwe gesê.


2 men flex their muscles
Naldo Cronjé en Dylan Harris het verskeie medaljes ingepalm by die IFBB Wêreldkampioenskap in Santa Susanna in Spanje in November. Foto: Verskaf.

Dié twee vriendinne oefen reeds vir volgende jaar en Steyn meen sy is reg om vir al die ander afdelings ook te oefen. Hulle wil volgende jaar in die goue, silwer- en bronsafdelings deelneem. Dié afdelings bepaal die vlak van die oefeninge van moeilik (goud) na makliker (silwer en brons).

“Ons het baie geleer van die ander deelnemers deur te kyk hoe hulle die verskillende oefeninge doen,” het Van der Merwe gesê.

Die spangees van die Suid-Afrikaanse span het vir dié twee vroue uitgestaan, en dit was besonders om te sien hoe al die Suid-Afrikaanse deelnemers mekaar aangemoedig het.

Van der Merwe en Steyn het al hul anonieme borge bedank en wil ander aanmoedig om ’n meer gesonder leefstyl te handhaaf.

“’n Mens doen dit vir jouself, vir niemand anders nie. Mense moenie dit as ’n straf sien om gesond te leef nie,” het Steyn gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button