Local newsNews

Vrou van Secunda leef nou voluit ná sy by die dood omgedraai het

“Dit wat die vyand wou gebruik om my uit te haal, het die Here ten goede laat meewerk,” sê Idalet Maritz.

Plaaslike fotograaf en onderwyser op Secunda, Idalet Maritz (35), het geleer hoe om elke dag voluit te leef nadat sy by die dood omgedraai het.

Maritz is in 2019, etlike maande ná die geboorte van haar tweede dogtertjie, Milana (6), met limfklierkanker gediagnoseer. Haar eerste dogterjie, Marnyke (7) was toe nog nie eers twee jaar oud nie.

Knoppe wat so groot soos mango’s was, het in haar nek gevorm en na verskeie doktersondersoeke en skanderings het Maritz gehoor die kanker is reeds by fase twee.

Voordat sy haar geliefdes geskakel het om die nuus te deel, het sy eers stilgestaan en vir die Here gevra wat sy met dié diagnose moes maak.

“Die Here het toe vir my ’n prentjie gewys van Moses wat op die berg staan met sy arms omhoog en ek het ervaar dat Hy vir my sê dat daar wel ’n geveg is, maar dat Hy steeds die oorwinning het.”

Sy wou nie vir chemo-behandeling gaan nie en het besluit om eerder ’n natuurlike roete te volg. Sy het onder meer haar eetgewoontes aangepas. Die geveg in haar vlees het voortgeduur en haar liggaam al hoe meer verswak.


woman with bumps in her neck
Dié groot uitgroeisels het in Idalet Maritz se nek begin uitkom toe sy agtergekom het sy het kanker. Foto: Verskaf.

“Ons het regtig die Here aangeroep met alles in ons. Ek wou nie net vir chemo-behandeling gaan as dit nie in Sy wil is nie.”

Die vergroeisels het haar lugpyp toegedruk en sy het dit net betyds tot by die huis gemaak toe sy een oggend met haar twee dogtertjies in ’n stootwaentjie gaan stap het.

Sy het by die huis inmekaargesak. Maritz en haar man, Johan, het besef hulle sal van rigting moet verander. Sy sou slegs van roete verander wanneer God haar rigting verander, sy het God weer geraadpleeg soos Dawid in 2 Samuel 5:22.

“Dit was ‘n belangrike draaipunt in my woestynpad. Ek het toe gebid dat as dit die Here se wil is, Hy my lewe moes spaar vir Sy roeping op my lewe.”

Maritz het een oggend in Augustus 2020 om 04:00 wakkergeskrik en duidelik in rooi die woord – chemo, gesien.

Sy het vir die eerste keer volkome vrede daaroor gehad, want sy het toe geweet dat God ook in chemo is. Dit was vir haar die teken dat sy vir chemo-behandeling moes gaan en in September dieselfde jaar het sy met dit begin. In dié tyd het Maritz ervaar dat die


a woman is being pushed into theatre
Die portier wat vir Idalet Maritz gebid het in die hospitaal net voordat sy vir ’n operasie moes gaan.
Foto: Verskaf.

Here vir haar ’n sendingveld gegee het elke keer wat sy vir chemo-behandeling moes gaan. Sy kon die ander pasiënte wat moeg en moedeloos was, bemoedig en met Woord en gebed bedien. Die knoppe in haar nek het drasties gekrimp en sy kon weer normaal asemhaal, na maande se asemnood.

Sy is op 3 November 2020 skoon van die kanker verklaar. Sy het oral vir almal vertel hoe goed die Here is.

“Die nommer 3 se betekenis in die Woord is heelheid, volledigheid en herstel.”

Een jaar later, in November 2021, was die kanker egter weer terug. Dié keer aan die regterkant van haar nek. Maritz was hierdie keer moedeloos en wou nie weer deur die woestyn gaan nie. Sy het vir Johan gesê as dit nou haar tyd is om na Jesus toe te gaan, is sy gereed.

“Dit was net te erg vir my, ek het nie kans gesien vir al die naalde, drups, operaies en behandeling nie.”

Maritz het egter weer eens al hoe swakker begin raak en het snags koors gekry. Sy het ’n pyn in haar ribbes gehad weens die knoppe wat toe ook onder haar arms begin vorm het, en haar eetlus het verdwyn. Haar familie het by haar gepleit om vir chemo-behandeling te gaan en haar huisdokter het ook vir haar gesê sy het twee opsies.

Sy moes ’n onkoloog gaan sien, of by ’n palliatiewe sorg-eenheid inboek om haarself vir die laaste paar dae van haar lewe so gemaklik as moontlik te hou. Maritz het uiteindelik einde Januarie verlede jaar die onkoloog gaan sien en sy is sommer dadelik opgeneem.


A woman in a hospital bed
Idalet Maritz in die hospitaal tydens haar kankerstryd. Foto: Verskaf.

“Dit was vir my baie erg, want ek het nie eers my kinders gegroet, of ’n sak gepak nie.”

Die volgende drie weke het Maritz in die hospitaal om haar lewe geveg en dokters het gesukkel om haar infeksietel­ling af te kry en haar HB-telling van 5 op te kry. Sy het binne-aarse antiobiotika gekry en naderhand het die dokters die risiko geneem om met haar hoë infeksietelling ’n biopsie te doen en ’n portaal in te plaas.

“Die dokters het vir my gesê die kanse is goed dat ek kan doodgaan en het gevra of ek gereed is om die risiko te neem. Ek het gesê God se wil sal geskied.”

Maritz kon nie ophou huil net voordat sy vir dié prosedure moes gaan nie, want ses jaar se emosies het uitgekom. Die hospitaal se portier het haar kom haal vir die prosedure, maar eers gevra of hy vir haar kon bid.

“Hy het elke Skrifgedeelte wat oor genesing gaan vanaf Genesis tot Openbaring, vir my gebid en ek het lanklaas so rustig en veilig gevoel. Hy was vir seker deur God gestuur.”

Die operasie het goed afgeloop en die grootste klier is verwyder, maar Maritz het steeds nie beter gevoel nie. Sy het steeds pyn gehad, haar hemoglobien-vlakke was steeds gevaarlik laag en haar infeksietelling was nog baie hoog. Sy moes verskeie kere bloed­oortappings kry.


x-ray imagery
Die X-straal links wys dat Idalet Maritz oortrek is van die kanker vanaf haar nek tot onder haar arm en drie maande later op die x-straal regs was sy skoon. Dié X-strale is vir Maritz simbolies van oorwinning omdat dit lyk of sy in die tweede X-straal haar arms in die lug gooi. Foto: Verskaf.

Ná nog ’n sonar het die dokters gesien die probleem lê by haar galblaas en het dit verwyder. Haar onkoloog het toe gesê sy het nie veel hoop vir Maritz nie en weet nie hoe om haar verder te behandel nie.

“Sy het in elk geval met die chemo-behandeling begin, hoewel my vlakke nog nie reg was nie en sy het gesê die chemo kon my doodmaak.

“Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het my onkoloog eers met ligte chemo-behandeling begin sodat my liggaam nie in skok moes gaan nie. Ek was so swak en siek, ek het nog gedink, dankietog dis net ligte chemo.”

Maritz het in dié tyd ’n skamele 39kg geweeg en haar hele liggaam het gepyn. Sy kon nie eers sonder hulp vanuit die bed of bad opstaan nie.

“Ek het toe vir die Here gesê Hy kan my maar kom haal. Ek weet dat God die God van wonderwerke is, en dat Hy die Waarmaker van Sy beloftes is. My liggaam het dit nie ervaar nie. Ek het nogsteeds besluit om by die kleed van Jesus te bly sit.

“My onkoloog het vir my gesê ek moet dit net so ’n maand gee, want dan gaan dinge anders lyk.”


woman crawls in the mud
Idalet Maritz neem verlede jaar aan Laerskool Goedehoop se ‘Warrior Princess’-geleentheid deel. Vroeërjare sou sy nooit so in modder rondkruip nie. Foto: Verskaf.

Maritz het in Maart verlede jaar een oggend wakker geword en besef sy het geen pyn nie en het nie nodig gehad om haar pynpille te drink nie.

Haar onkoloog het toe sterker chemo-behandeling asook ’n nuwe soort behandeling, immuno-terapie, voorgestel. Dié behandeling het egter sowat R400 000 gekos en hulle moes dit kontant betaal.

“Ek het geglo die Here sal voorsien en besluit om vir dit te gaan.”

Die Here het alles voorsien en Maritz moes slegs ’n bydrae van R163 maak. Dié nuwe behandeling is deur ’n internasionale liefdadigheidsfonds gefinansier en omdat Maritz ingestem het dat haar uitslae gebruik kon word deur dokters om dié behandeling verder te toets, het die fonds vir alles betaal.

Drie maande later, was Maritz se onkoloog sonder woorde toe sy haar X-strale sien en merk hoe die kanker binne drie maande heeltemal verdwyn het.

“Sy spesialiseer in aggressiewe kankers en het gesê in haar 26 jaar as dokter het sy nog nooit binne drie maande so groot verandering gesien nie.

“Ek is so dankbaar vir my tweede, eintlik derde kans op lewe (want die Here het my lewe in 2019 ook kom red nadat ek by die dood omgedraai het) en het vir die Here gesê vir so lank as wat ek leef, sal ek getuig en Sy naam grootmaak.”


a woman standing on a mountain top lifts up her hands
Dit was vir Idalet Maritz ’n oorwinning om Leeukop uit te klim.
Foto: Verskaf.

Maritz getuig nou gereeld by kerke of skole of waarheen sy genooi word. Sy het ook twee jaar terug begin met ’n uitreik-aksie by die Kriel Kosmos Kinderhuis en al verskeie groot projekte daar aangepak.

Sy leef nou voluit elke dag en het begin tennis speel, fietsry saam met haar gesin, draf en berge klim. Dit was vir haar ’n groot oorwinning om Leeukop in Kaapstad uit te klim en volgende in haar visier is Tafelberg.
As jy by die Kriel Kosmos Kinderhuis-projekte betrokke wil raak, skakel Maritz by 076 645 4305.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button