Hanri Ehlers stel resepteboek bekend met funksie op Secunda
‘Die Brug’- deelnemers is veelsydig.
Hanri Ehlers (40) is ’n vrou van vele talente en het onlangs haar eerste boek by Die Boekspens op Secunda bekendgestel. Ehlers het op ’n plaas naby Delmas grootgeword en haar hoërskoolloopbaan by die Afrikaanse Hoër Meisieskool voltooi.
Na skool het sy ’n graad in regte met cum laude by die Universiteit van Pretoria verwerf en toe na Stellenbosch verhuis waar sy haar nagraadse studies voortgesit het. Sy het as navorsingsassistent gewerk en later as lektor aan die Departement van Privaatreg gedien.
Ehlers was van kleins af lief vir diere en het as kind gereeld tyd in die veld bestee op soek na diere en insekte.
“Ek wou weet wat hulle eet, waar hulle bly en wat hulle doel was,” het sy vertel.
Dit is dus geen verrassing nie dat sy na haar studies, terwyl sy as advokaat vir ’n internasionale handelsmaatskappy gewerk het, ook ’n nie-winsgewende wildbewaringsorganisasie gestig het.
Met haar werk moes sy baie oorsee reis, maar as sy op Afrika-bodem was, veral in Botswana, het sy baie wildbewaringswerk gedoen.
Ehlers het later die Kaap vir Botswana verruil waar sy as advokaat in die Hooggeregshof van Botswana toegelaat is en daar gepraktiseer het.

Sy het haarself in dié Kalahari-wêreld gaan vestig en in dié tyd meer op haar organisasie se wildbewaringsprojekte gefokus. Ehlers wou spesifiek op aasvoëls fokus omdat baie mense van hulle vergeet.
“Ek het ’n restaurant spesifiek vir aasvoëls oopgemaak.”
Die doel van dié aasvoëlrestaurant was om vir dié voëlspesie ’n veilige plek te skep om kos te eet wat nie gifstowwe of hormone bevat het nie.
Mense kan dan gaan kyk hoe die aasvoëls eet. Ehlers het vertel dat sy in dié tyd ook ’n restaurant vir mense oopgemaak het.
“In die dorpie Ghanzi waar ek gebly het, was daar nie een plek wat goeie koffie verkoop het nie,” het Ehlers vertel.
Sy het ’n ou gebou wat in 1948 deur Bram de Graaff gebou is en die ou handelshuis en vulstasie was, gekies om haar nuwe koffiewinkel- en restaurant, Hollandia, oop te maak.
Sy het ’n kursus in Johannesburg gedoen om ’n meesterbarista te word en selfs twee van haar eie koffiebone-samestellings ontwikkel.

Foto: Verskaf.
Dinge het egter op 31 Oktober 2020 vir Ehlers skeef geloop toe haar restaurant en regspraktyk weens ’n elektriese fout afgebrand het.
“Dit was een van die mees traumatiese ervarings wat ek moes deurmaak. Om te staan en kyk hoe al jou harde werk deur vlamme verwoes word en daar is absoluut niks wat jy daaraan kan doen nie.”
Vriende in Botswana en haar familie het gehelp om Hollandia weer op te bou, maar op die dag wat sy weer die restaurant sou oopmaak, het sy positief getoets vir die Covid-19-virus.
Die volgende paar jaar was ’n tyd van veg en oorlewing vir Ehlers wat toe ook longontsteking ontwikkel het. Sy was vir lank in ’n hospitaal in Botswana en kon eers na Suid-Afrika oorgeplaas word nadat sy negatief getoets het vir Covid-19.
Sy het in dié tyd selfs op ’n WhatsApp-groep ’n boodskap gestuur en gevra dat iemand net haar pa, Johan Ehlers, moet laat weet dat sy dit nie gaan maak nie.
“Ek het die lig gesien en gesê ek is reg om te gaan, maar ek het duidelik die stem van die Here gehoor sê dat dit nog nie my tyd is nie.”
Ehlers is na ’n gesukkel uiteindelik na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas, maar dokters daar het ’n paar keer haar familie geskakel en gesê hulle moet kom groet.
Haar internis het gemeen sy het net 9% kans om te leef. Sy het by die dood omgedraai en moes weer leer loop. Sy het gesukkel om te lees.
Ehlers het egter stadig begin verbeter en sy reken die feit dat sy weer haar moedertaal Afrikaans kon hoor, het ’n verskil gemaak.
Nadat sy uiteindelik na drie maande, die meeste daarvan in die intensiewesorgeenheid, vanuit die hospitaal ontslaan is, moes sy vir nog 147 dae op ’n suurstofmasjien bly.
Terug by die huis op die plaas, het haar pa geweier om vir haar ’n rolstoel te gee en gesê hy sal vir haar ’n loopraam gee.
“Ek het vir myself ’n doelwit gestel om binne sewe dae weer te leer loop en ek het dit bereik, al was dit klein treëtjies en kort afstande.”
Ehlers het in dié tyd geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer soos om self badkamer toe te gaan, te lees en om elke dag voluit te leef.
LEES OOK: Help find the family of a senior citizen who died on a farm in the Bethal area
Sy het, nadat sy en haar pa seisoen 1 van die KykNet televiesiereeks, Die Brug gekyk het, besluit om vir seisoen 2 in te skryf. Die natuurskoon het Ehlers se aandag getrek en haar pa het haar aangemoedig om in te skryf.
Vir Ehlers was die grootste uitdaging nie om die brug te bou nie, maar om haar persoonlike spasie met so baie vreemdelinge te deel.
Sy het onder die top vyf deelnemers geëindig wat saam besluit het wie oor die brug loop. Die idee om ’n resepteboek vry te stel, het in Botswana by haar restaurant reeds posgevat nadat baie kliënte vir Ehlers gesê het sy moet dit oorweeg om ’n resepteboek uit te bring.
Haar liefde vir kosmaak kom vanaf haar ouma, Delene Ehlers wat dood is terwyl Ehlers in die hospitaal was. Die dokters en haar familie het die nuus van haar weg gehou omdat hulle gemeen het slegte nuus sou haar eie dood veroorsaak of dalk ’n groot terugslag bring.
“Na my ouma se dood het ek gedink dit is ’n goeie manier om haar te laat voortleef in die bladsye van die resepteboek.”
Dié resepteboek, Hanri: Herinneringe, Reise en Resepte op die Kronkelpad Huistoe, bestaan uit 91 resepte en elke hoofstuk van die boek is ’n fase van Ehlers se lewe.
Een van die hoofstukke handel oor Die Brug en bevat resepte van die deelnemers uit seisoen 1 en 2. Ehlers het al die fotografie vir haar boek self gedoen en net natuurlike lig gebruik.
Sy is nou voltyds by die boerdery betrokke, onder meer as kuddebestuurder van die Bonsmarakudde en geniet dit om buite ook te werk en nie net in ’n kantoor nie.
Dié veelsydige vrou is ook ’n kranige rolbalspeler wat provinsiale kleure verwerf het en die president van die Delmas Rolbalklub is.
Sy begin binnekort ook as motiveringsspreker optree by geleenthede.
Haar resepteboek is beskikbaar op Takealot of by Die Boekspens of dit kan by haar webwerf, https://www.hanriehlers.co.za/the-simple-art-of-gratefulness/ bestel word.




