Local newsMunicipalNews

AfriForum gryp weer in tydens watertekort op Bethal

Organisasie doen verskeie projekte om dorp beter te laat lyk.

BETHAL – AfriForum se plaaslike tak het nie laat slap lê gedurende Januarie nie en steeds voortgegaan met hul projekte.

Dié tak het gewys dat hulle gemeenskapsbouers is en sowat 60 000l water aangery toe Bethal se krane weer opgedroog het.

Hulle het ook verskeie gebiede op die dorp skoongemaak en slaggate tydelik gevul. AfriForum Bethal-tak moes vroeg in die nuwe jaar reeds inspring toe dié dorp weereens sonder water gelaat is en het noodwaterpunte gereedgekry om te help met watervoorsiening.

Boere van die omgewing het ook gehelp en hul trekkers en vragmotors beskikbaar gestel om water aan te ry.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het gesê dit blyk asof 2024 se uitdagings hulself begin herhaal het.

“In 2024 is inwoners vir meer as 180 dae sonder water gelaat en nou lyk dit of ons op pad is na ’n soortgelyke situasie,” het Bekker gesê.

“Ons het op hierdie stadium geen idee wat die oorsaak is nie, want Rand Water en die Govan Mbeki Munisipaliteit blameer mekaar vir die situasie.”

AfriForum is tans in ’n hofgeding met Rand Water gewikkel oor watervoorsiening in die gebied. Dit was weer op 6 Februarie in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor.

Dié saak kom al sedert 2024 toe AfriForum ’n interlokutêre aansoek gebring het.

Die doel van dié aansoek is om spesifieke inligting vanaf Rand Water te kry en sodoende te bepaal of die besluit wat Rand Water geneem het om die waterdruk na sewe munisipaliteite te verminder, ongrondwetlik en onregmatig is.

AfriForum is van mening dat Rand Water en die munisipaliteite nie deursigtig met hulle besluite is nie en die inwonders gevolglik ly.

Volgens Bekker is van die antwoorde wat inwoners vanaf die munisipaliteit en Rand Water gekry het sedert die litigasie-proses begin het, verskonings soos prouksietekorte, onderhoudprobleme en kragonderbrekings.

Volgens die hofbevel is dit ongrondwetlik en onregmatig om kredietbeheerpogings aan te wend waar waterdruk verminder word.

“Hulle mag dit nie nou doen nie en ook nie enige tyd in die toekoms nie,” het Bekker gesê.

AfriForum is dus genoodsaak om met ’n soektog na feite te begin en die hofverskyning op 6 Februarie was om duidelikheid oor dié saak te kry.

AfriForum se span in Bethal het die ingang voor die BCVO-skool skoongemaak en oudergewoonte ook die gebied rondom die Nestlé-brug en die driehoek. Hulle het altesaam 36 sakke vullis en gras tydens dié skoonmaakaksie verwyder.

Dié tak van AfriForum se vullisdromprojek in samewerking met SkipGo is ook steeds in werking en daar word weekliks meer as 30 sakke vullis weggery om te verseker dat die dorp skoon en netjies bly.

Die Bethal-tak het ook tydelike verligting aan motoriste gebring toe doleriet in verskeie strate ingery is om die paaie meer toeganklik te maak.

Die strate waar daar gewerk is sluit in Hoëveldlaan, Du Plooy-, Gemsbok- en Blesbokstrate.

Volgens Bekker is daar ook herstelwerk verrig aan die stuk pad voor die SAVF Silwerjare Ouetehuis sodat noodvoertuie dié ouetehuis vinniger kan bereik.

“Ons werk daagliks om te help om die lewe van Bethallers te verbeter, nie net wanneer dit tyd is om te stem nie,” het Bekker gesê.
Om by AfriForum se Bethal-tak aan te sluit of betrokke te raak, stuur ’n e-pos na hennie.bekker@afriforum.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button