Radio-omroeper van Secunda gekies as Mevrou Suid-Afrika finalis
Janine van Wyk mik vir nasionale titel.
Plaaslike entrepreneur en radio-omroeper, Janine van Wyk (40), is as ’n semi-finalis vir Mevrou Suid-Afrika 2026 gekies. Hoewel van Wyk buite haar gemaksone gevoel het om in te skryf, het sy gevoel sy moet.
“Dit gaan vir my nie net oor die kroon van Mevrou Suid-Afrika nie, maar dit is ’n goeie platform om te netwerk en te bemark.
“Ek voel ook dat God my lei om dié pad te stap en sodoende êrens ’n verskil te maak en al die eer kom Hom toe,” het van Wyk gesê.
Die uitdunrondes het op 31 Januarie by ’n geleentheid in Johannesburg plaasgevind. Die deelnemers moes op die loopplank loop en hulself aan die gehoor en beoordelaars voorstel.
Van Wyk wil ’n verskil in haar gemeenskap op Secunda maak en spesifiek op bejaardes fokus. Sy het in 2023, nadat sy getroud is met Ettienne van Wyk, na Secunda getrek en geniet dit om in die gemeenskap betrokke te wees.
“Die Secunda-gemeenskap het baie diep in my hart gekruip,” het sy gesê.
Sy is reeds by verskeie nie-winsgewende organisasies in die Secunda-gemeenskap betrokke en wil ook meer betrokke raak in omliggende gebiede. Sy wil spesifiek op bejaardes se emosionele welstand fokus.
“Die bejaardes in ’n gemeenskap word soms vergeet en mis gekyk.”
Van Wyk wil ook by projekte betrokke raak wat fokus op bewusmaking van geslagsgeweld en slagoffers van geweld ondersteun.
“Ek wil ’n boodskap van hoop en liefde bring.”
Sy is reeds in samewerking met Radio Kragbron, waar sy ’n omroeper is, betrokke by Terra Nova Aftree-oord en House of Mercy Hospies.
Sy wil die gemeenskap aanmoedig om Davieshof se skenkingswinkel, The Bargain Shop, te ondersteun deur klere of enige ander items te skenk.

Van Wyk is ook deel van Helpende Hand se Secunda-tak wat verskeie projekte in die gemeenskap aanpak.
“Ek wil mense aanmoedig om nie bang te wees om die eerste tree te neem om hul doel uit te leef nie.”
Van Wyk het verlede jaar haar eerste boek, I Resigned, Now What, bekend gestel en gaan binnekort ’n boekbekendstelling by ’n vroue-tee reël.
Sy het verlede jaar begin met haar studies in teologie en lees graag in haar vrye tyd.
As Mevrou Suid-Afrika finalis, gaan sy deel wees van ’n vroue-ontbyt wat op 28 Maart by Emperors Palace plaasvind asook ’n gholfdag by die Glendonwer Golfklub op 29 Mei.
Belangstellendes wat dié dae wil bywoon of ondernemings wat betrokke wil raak, kan van Wyk by 079 396 9144 skakel.
Jy kan ook vir Van Wyk gaan stem tot 1 Julie deur ’n SMS te stuur na 47587 met die woorde: Janine van Wyk.
’n SMS kos R3.



