Apteker spreek Bethal VLU-vroue toe
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 17 Maart by te woon.
Apteker van Kosmos Apteek, Jannes van der Merwe, het lede van die Bethal VLU-tak op 17 Februarie, tydens hul vergadering, toegespreek.
Die VLU-vroue beskou van der Merwe, wat op Bethal gebore is en grootgeword het, as familie want sy ouma, Ella van der Merwe, was vir 60 jaar lid van die Bethal VLU-tak.
Volgens van der Merwe kan daar probleme met mense se medikasie ontstaan wanneer daar meer as een dokter betrokke is.
“Een dokter skryf dalk vir jou iets voor en ’n spesialis skryf iets voor en as jy weer sien drink jy 20 pille terwyl dit dalk net nodig is vir vyf,” het van der Merwe gesê.
Sy vrou is ook in die aptekerswese en is ’n gekwalifiseerde PCDT-apteker (primary care drug therapist).
ALSO CHECK: Man from Standerton walks more than 500km for learners in township schools
Sy help pasiënte wat eers by ’n kliniek moet aanmeld waar basiese siekte-toestande behandel word voordat ’n pasiënt by ’n dokter of spesialis uitkom.
Van der Merwe spesialiseer in formulerings van mengsels en strope. Hy het die vroue aangeraai om seker te maak dat hulle behandeling vir chroniese toestand reg is.
“Dit is hoekom voorskrifte vir chroniese toestande elke ses maande hernu moet word,” het van der Merwe gesê.
Hy het die vroue ook aangeraai om met hul apteker oor produkte wat hulle vanaf die rak koop, te praat.
“Van dié produkte kan ’n interaksie met chroniese medikasie hê.”
Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op 17 Maart en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon. Vir meer inligting, skakel die skakelbeampte, Lynette Posthumus by 072 203 6230.



