Secunda se Groenstrook Gabbas kikker tonnel op
Span benodig donasies op gereelde basis.
Plaaslike sanger en kunstenaar Rhona van Niekerk het onlangs een van die tonnels wat deel vorm van die nuwe fietsrybaan op Secunda geverf en mooi gemaak.
Dié tonnel en baie van die ander tonnels op Secunda word deur die Groenstrook Gabbas netjies en skoon gehou. Nicolene Vere-Russell, wat deel is van die Groenstrook Gabbas en meer gereeld op haar grassnyer gesien kan word waar sy in die groenstroke grassny, het ook gehelp verf en skoonmaak.
Vere-Russell het gesê hulle wil nou kosmosse langs dié tonnel plant om dit verder op te kikker. Van Niekerk het die opkomende en bekende Kosmos 3-in-1 marathon wat die naweek plaasvind en die Cosmos 3-in-1 fietswedren wat op 21 Maart plaasvind, in gedagte gehad toe sy besluit het om kosmosse te verf.
“In klein dorpies kan ’n mens soms sien dit gaan agteruit. Ek het onlangs, oppad na Mosselbaai vir ’n vakansie, in Willowmore gestop en was aangenaam verras om te sien hoe mooi dié dorpie nou lyk.
“Na die Covid-19 pandemie het Willowmore baie agteruit gegaan, maar ’n plaaslike kunstenaar en die gemeenskap het dié dorpie weer begin mooimaak en mure begin verf.
“Dit is nou so mooi dat toeriste daar stop om foto’s te neem voor die geverfde mure. Ek het besef wat die impak van kuns kan hê en hoe dit mense met ’n positiewe gevoel kan laat.

“As jy ’n verskil in jou gemeenskap kan maak, doen dit, al is dit net om voor jou eie deur skoon te maak en dit mooi te maak. Om iets van jouself te gee, al is dit jou tyd of geld, laat jou groei,” het Van Niekerk vertel.
Vere-Russell meen die tonnel lyk nou baie vrolik vandat dit geverf is.
“Dit was voorheen net ’n donker tonnel, nou skep dit ’n geleentheid vir mense om te kom foto’s neem hier en fotograwe kan selfs fotosessies hier kom doen,” het Vere-Russell gesê.
Sy was een van die mense wat die visie gehad het om ’n fietsrybaan op Secunda oop te maak en dié fietsrybaan is in September verlede jaar klaar ontwerp, gebou en geopen. Bye het onlangs nes gemaak by een van die plekke op die baan, maar Vere-Russell het ’n professionele span byeboere gekry om die bye veilig te verwyder en te skuif na ’n veilige gebied.
Sy het die gemeenskap aangemoedig om die Groenstrook Gabbas, wat groot dele van Secunda se groenstroke onderhou en netjies hou, finansieel te ondersteun. Hulle het ’n ooreenkoms met Sasol waar, as ’n Sasol-werker R400 of minder gee, dieselfde bydrae gemaak sal word.
Die Groenstrook Gabbas het geld nodig om swartsakke, masjinerie, brandstof en die werkers wat hulle help, te betaal. Vir meer inligting of om betrokke te raak, skakel Vere-Russell by 082 920 3123.
LEES OOK: eMbalenhle residents furious as sewage spills into homes
LEES OOK: GMM gets more flack for pollution of water sources



