AfriForum sit hul werk voor in GMM, oorhandig aansoekvorm vir inligting
Organisasie veg steeds vir inwoners se regte.
AfriForum se plaaslike Teks-buurtspan het nie geskroom om gedurende Februarie hul hande vuil te maak nie en voortgegaan om in hul omgewings gras te sny, slaggate te vul en vullis te verwyder.
AfriForum het weer eens tydens die onlangse wateronderbrekings op Bethal, ingegryp en meer as 260 000 liter water voorsien aan die gemeenskap. Die boere in die omgewing het, soos vorige kere, gesorg dat AfriForum se noodwaterpunte vol is en ook dat die ouetehuise en skole op die dorp toegang tot skoon water het.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het die boere gratis hulp aangebied en AfriForum het die aflewerings gekoördineer sodat daar doeltreffend na almal omgesien kan word.
Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Secunda-tak, het op 17 Maart ’n aansoek, volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan die munisipaliteit oorhandig en dit ook reeds by die hof ingedien.
AfriForum het Rand Water ook by die Hooggeregshof in Pretoria aangevat om inligting oor die water krisis te bekom.
“Ons wil die Govan Mbeki Munisipaliteit dwing om inligting oor die waterleweringsooreenkoms asook die skuldbetalingsooreenkoms tussen die hulle en Rand Water met ons te deel,” het Bekker gesê.
Hulle wag nog op die uitspraak van dié saak.
“AfriForum pak verskeie aksies aan om di’ krisis op te los. Ons glo nie in goedkoop politieke oplossings nie. Die inwoners verdien skoon, lopende water en ons sal aanhou veg daarvoor.”
AfriForum se Teks-tak het 190 sakkies teer gebruik om slaggate in Malherbestraat op Bethal te herstel.
“Dié hoofstraat word daagliks deur honderde motoriste gebruik om hul kinders na Hoërskool Hoogenhout te vervoer,” het Bekker gesê.
’n Tweede fase van dié projek skop binnekort af. Buiten Malherbestraat, het AfriForum hande met Hoërskool Hoogenhout geneem en ook slaggate in Wichtstraat herstel. Die skool het die teer verskaf en AfriForum-werkers en vrywilligers het die slaggate herstel.

Werkers het 230 sakkies teer gebruik vir dié straat en ook slaggate op die skoolterrein. Die Volkskool op Bethal het AfriForum genader om 3.5 hektaar gras op die sportgronde te sny.
Dié AfriForum-tak laat ook nie gras onder hul voete groei op Secunda nie en het op dié dorp in verskeie gebiede gras gesny. Daar is veral op die groenstroke gefokus en om gebiede wat langs paaie loop, netjies te maak.
“Ons het in OR Thambostraat gewerkskaf asook die omgewing rondom Laerskool Secunda en die groenstroke tussen Vaalrivier- en Munchenstraat, Vaalrivier- en Rietspruitstraat,” het Du Plessis gesê.
Hulle het dié skoonmaakprojek saam met inwoners aangepak en ook saam met die Groenstrook Gabbas en die Secunda Steamers gewerk om die eendedam skoon te maak. Die span het meer as 19 bakkie- en sleepwa-vragte vol gras en vullis tydens dié projekte verwyder.
“Dit is belangrik vir ons om groenstroke en gras langs hoofroetes netjies te hou aangesien lang gras ’n veiligheidsrisiko vir voetgangers is weens die wegkruipplek wat dit vir misdadigers kan bied. Voetgangers is ongelukkig maklike teikens vir misdadigers wat lang gras en bebosde areas tot hul voordeel gebruik,” het Du Plessis gesê.



