VLU-leier op Bethal verkies as visie-voorsitter op konferensie-vlak
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering op 21 April by te woon.
Jenny van Rheede van Oudtshoorn, voorsitter van die VLU Bethal-tak, is onlangs tot VLU se visie-voorsitter op konferensie-vlak verkies.
Van Rheede van Oudtshoorn het in 2003 by die VLU se aandtak op Piet Retief aangesluit. Daar het sy op die bestuur gedien as skakelbeampte, visie-voorsitter en voorsitter.
Sy het later die aandtak vir die Saligna-dagtak verruil waar sy twee jaar betrokke was voor sy na Bethal verhuis het.
Sy het in 2013 haarself as beoordelaar vir die gebak en lekkers-afdeling gekwalifiseer. Sy het haar teoretiese eksamen in die handvlyt-afdeling afgelê, maar dit nie klaargemaak nie weens haar man se gesondheid.
Van Rheede van Oudtshoorn se motto in die lewe is: ‘Leer soveel vaardighede aan as wat jy kan en beproef alles.
‘Brei jou kennis uit van alles wat vir jou ’n uitdaging is.’
Sy glo sy is nooit te oud om iets nuuts te leer nie en hou van nuwe uitdagings, hoewel sy erken dat sy agter in die ry staan as dit by tegnologie kom.
Die VLU Bethal-tak se volgende vergadering is op 21 April om 09:00 vir 09:30 by die NG Kerk Bethal-Oos-gemeente.
Belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon. Vir meer inligting, skakel Lynette Posthumus by 072 203 6230.



