Vermeende kapers teister bejaarde en dogter op Delmas
Volgens Groenewoud was die man baie aggressief en was hy dus bevrees dat hy moontlik gewapen kon wees. Daar was ook ’n tweede man by die voertuig. Groenewoud het hom as groot gebou met ’n swart hemp, driekwart denimbroek en bleskop beskryf.
Twee vermeende kapers is op 15 Januarie op Delmas in hegtenis geneem. Leon Groenewoud (75) het en sy dogter Debbie Fouché het die oggend vanaf Pretoria na Delmas gery.
Volgens Fouché het sy ‘n besigheidsbesoek aan CJ Williams gebring. Fouché het haar wit Toyota Fortuner aan die oorkant van die CJ Williams gebou in Vierdestraat parkeer en die perseel binnegegaan.
Groenewoud het Streeknuus meegedeel dat sy dogter hom gevra het om met haar vanaf Pretoria te ry. Hy het egter vir haar in haar motor gewag.
“Skielik en vanuit die bloute het ‘n man aan die venster geklop en ek het hom gevra wat hy soek,” het Groenewoud aan Streeknuus gesê.
Die man het Groenewoud glo in geen onduidelike taal laat verstaan dat hy Groenewoud se kar wou hê. Die Fortuner se sleutelose aansitter (keyless entry) was egter by Fouché.
Volgens Groenewoud was die man baie aggressief en hy was bevrees dat hy moontlik gewapen kon wees. Daar was ook ‘n tweede man by die voertuig.
Groenewoud het hom as groot gebou met ‘n swart hemp, driekwart denimbroek en bleskop beskryf. Groenewoud het uit die Fortuner gespring en by die hek van CJ Williams om hulp geroep.
Personeel het die polisie sowel as lede van die AfriForum Valke Buurtwag gekontak en die buurtwaglede kon daarin slaag om een van die verdagtes vas te trek.
Volgens Kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas SAPD, het die man met die buurtwaglede se aankoms op die toneel, steeds doodluiters agter die stuurwiel van die Fortuner gesit.
Volgens Hartley sou die verdagte ook aanvanklik oor sy identiteit lieg, maar sy ware identiteit was gou bepaal.
‘n Saak van poging tot kaping is by die Delmas Polisie aangemeld.
Veiligheidskameras wat alles afgeneem het, bevestig die gebeure rondom die vreemde poging tot kaping van Groenewoud in sy dogter se Fortuner.
Groenewoud het Streeknuus meegedeel dat die verdagte uiters arrogant was. Hy het boonop aan die buurtwaglede vertel Groenewoud het glo die verdagte werk aangebied en vandaar sy optrede.
“Ek het saam met my dogter van Pretoria afgery vir haar besoek aan CJ Williams, waar en wanneer sou ek kastig vir dié vreemdeling van Delmas werk aangebied het,” het Groenewoud gesê.
“Ek dink hy het geweet hy is in die pekel en het toe probeer om my as die skuldige party af te maak.”
Teen laat middag op dieselfde dag het ‘n buurtwaglid die tweede verdagte by ‘n huis op die hoek van Vyfdestraat en Vierdelaan opgemerk. Die polisie was gekontak en ook dié verdagte was in hegtenis geneem.
Groenewoud het die uiters vinnige optrede van Delmas Valke Buurtwag geprys.
“Ek het geen idee hoe die manne so vining op die toneel gekom het nie, maar ek is baie dankbaar.”
Teen druktyd was die hofdatum vir die verdagtes nog nie bekend nie.



