MunicipalStreeknuus

VKLM se stortingsterrein is in haglike toestand

Die vullisterrein van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit op Delmas het uiters swak gevaar en kon slegs 22% behaal teenoor die 38% gedurende die 2021 oudit.

Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit op Delmas se vullisterrein vaar vanjaar nóg slegter op AfriForum landwye oudit op vullisterreine.

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Die oudit bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir vullisterreine in Suid-Afrika in terme van toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie meet. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens AfriForum het nie een van die 22 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, aan nasionale standaarde voldoen nie.

Die vullisterrein van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit op Delmas het uiters swak gevaar en kon slegs 22% behaal teenoor die 38% gedurende die 2021 oudit.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is die vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand.

“Dit is duidelik dat geen beheer toegepas word by hierdie terreine nie en dat dit net nog ’n voorbeeld is van die totale agteruitgang van munisipale dienste in ons land.”

Bekker het verder gesê dat die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine is.

“Dit wil voorkom of daar geen doelwit of plan is om op munisipale vlak hierdie dringende probleem op te los nie en sal ons [AfriForum] dus met die relevante owerhede kontak maak om die probleem te probeer oplos, dit is ’n absolute skande om te sien hoe van die terreine lyk en dit is onaanvaarbaar dat daar niks aan die probleem gedoen word nie,” het Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld gesê.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

Volgens AfriForum het hulle in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, en haar span vergader.

“Uit dié vergaderings was dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede.”

Volgens die burgerregte-organsiasie is dit ’n bewys daarvan dat samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button