MunicipalStreeknuus

Delmas se riool-krisis woed voort

“My eerste indrukke was dat die reuk van rou riool sterk teenwoordig is. Ek het ook monsters van die water geneem sodat die gehalte van die rivier se water bepaal kan word.”

Dit is bevestig dat die opgradering van Delmas se rioolaanleg in volle swang is, maar erens blyk daar ’n groot krisis te wees.

Dié bewyse daarvoor lê in die spruit wat deur die dorp vloei en ook Delmas se gholfbaan.

Alles hiervan gebeur vóór die rioolvuil die aanleg bereik waar die riool verwerk moet word voordat dit in die Bronkhorstspruit- en rivier afgevoer word.

Geen antwoorde kon verskaf word hoekom Delmas-dorp rioolprobleme het vóór die verwerkingsaanleg nie.

Streeknuus het die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela, rakende die teenwoordigheid van riool op onder andere die gholfbaan genader.

Mashabela het in ’n e-pos aan Streeknuus bevestig dat die navraag aan die relevante owerhede binne die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) oorhandig sal word en terugvoer gegee sal word.

Pieter Senekal, Vryheidsfront Plus raadslid by die Victor Khanye Munisipaliteit, het genoem dat hy klagtes van boere stroomaf in die Witklipbank-omgewing aan die R42 tussen Delmas en Bronkhorstspruit ontvang het.

Dié boere kla oor onverwerkte riool in die Bronkhorstspruit.

“My eerste indrukke was dat die reuk van rou riool sterk teenwoordig is. Ek het ook monsters van die water geneem sodat die gehalte van die rivier se water bepaal kan word.”

Hier kan die omvang van riool wat deur die Delmas Gholfbaan vloei, duidelik gesien word.

Volgens Senekal, het hy op dieselfde dag die gholfbaan besoek waar ’n soortgelyke probleem ondervind word.

Senekal het verskeie probleme op die gholfbaan uitgewys, onder andere dat die wilgerbome se wortels moontlik tot die verstopping van rioolpype kan bydra.

“Die aanbring van nuwe pype, sou ’n oplossing wees. Om die verstoppings aan te spreek, sou ook ’n oplossing wees, maar daarvoor word geld benodig.”

Senekal het egter bevestig dat die rioolprobleem alle relevante persone en afdelings binne VKLM se aandag geniet en dat daar moeite gedoen word om na ’n oplossing te soek.

Teen druktyd het Senekal bevestig dat hy die saak met die munisipale bestuurder sou opneem en ook die monster van die rivier vir ontleding aan die munisipaliteit sou deurgee.

Die stroom vloei deur die Delmas Gholfklub se baan.

Streeknuus het verder navraag aan Diane Bath, raadslid vir die Demokratiese Alliansie, gerig.

Bath het laat blyk dat die proses om die rioolaanleg op te gradeer goed vorder, maar dat die rioolprobleem baie meer kompleks is.

“Die opgradering word deur die Nkangala-distrik gemonitor. Die menseregtekommissie is ook by die proses betrokke asook die Bronkhorstspruit Catchment Forum.

“Die gholfbaan word daagliks gediens deur die riool op te suig. Daar word egter ’n spesiale voertuig benodig om die probleem sinvol aan te spreek.”

Ander gebiede van kommer, soos die riool in Bredenkampstraat, is aangespreek en met Streeknuus se besoek was dit wel droog.

Volgens Bath was daar ’n groot klip in die stelsel wat tot die onooglike opdamming van riool in Bredenkampstraat gelei het.Dit kon egter bevestig word dat daar voor én na die rioolaanleg probleme blyk te wees met die afvoer van riool.

Intussen hang die klankie van rou riool op die Delmas Gholfbaan en stroom af tot by die Bronkhorstspruitdam en menige vrae is steeds onbeantwoord.

Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus omtrent die terugvoer vanaf VKLM rakende die rioolkwessies asook die uitslae van monsters wat uit die Bronkhorstspruitrivier geneem is.

Poele rou riool op die Delmas Gholfbaan. Foto: Facebook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button