MunicipalStreeknuus

Riool op Delmas en Eloff word aangespreek

Die munisipaliteit is tans besig met die opgradering van die Delmas-rioolwerke in samewerking met die Nkangala Distrik en die Departement van Water en Sanitasie.

Die opgradering van die Delmas-rioolwerke is deur die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit bevestig en behoort teen die middel van 2024 afgehandel te wees.

Ná klagtes oor riool in die strate, spruit en Delmas Gholfbaan Streeknuus bereik het, is daar vrae aan die munisipale bestuurder, Thabo Mashabela gerig. (Streeknuus, 26 Augustus).

Hy het bevestig dat die blokkasie in Bredenkampstraat, oorkant Laerskool Delmas se syingang, op 20 Julie uit die weg geruim is.

Die blokkasie het glo weens ’n groot voorwerp wat op onverklaarbare wyse binne die stelsel beland het, plaasgevind.

Op die navraag rondom die sloot wat in die vleiland daarbenewens gegrou is, was Mashabela se antwoord die volgende: “Die sloot in die vleiland agter die Eagle Heights-woonstelle oorkant Laerskool Delmas was net ’n tydelike maatreël om die tegniese span te help tydens hul soektog na die blokkasie.

Die toestand van die Bronkhorstspruit wat deur Delmas vloei, kan hier duidelik gesien word.

Streeknuus het die gebied besoek en dit was duidelik dat daar geen riool meer vloei nie en die tydelike sloot was ook droog.

Die riooluitvloeisel wat glo in die Bronkhorstspruitrivier beland, is ook aangespreek.

“Die munisipaliteit is tans besig met die opgradering van die Delmas-rioolwerke in samewerking met die Nkangala Distrik en die Departement van Water en Sanitasie,” het Mashabela in ’n mediaverklaring laat hoor.

Volgens hom, was die rioolwerke aanvanklik vir ’n kapasiteit van 4.5 megaliter per dag ontwerp en kan dit nie tans die hoeveelheid riool wat dit bereik, hanteer nie.

“Die opgraderingsprojek behoort teen Junie 2024 voltooi te wees.”

Die besoedelde spruit wat deur Delmas gholfklub vloei.

Die Delmas-rioolwerke sal dan 12.6 megaliter per dag kan hanteer.

“Die aanleg behoort riooluitvloeisel te kan stort wat aan die nodige vereistes voldoen.”

Mashabela het verder genoem dat die Nkangala Distrik Munisipaliteit sekere nodige komponente beskikbaar gestel het om intussen verbeterde rioolafvalstorting te bewerkstellig en die swaar reuk van rou riool op Delmas te help bekamp.

Hy het ook bevestig dat die Bronkhorstspruit Catchment Forum een van die belanghebbendes in die opgradering van die Delmas-rioolwerke is, omdat rioolstorting tans moontlik tot die besoedeling van die Bronkhorstspruitrivier en die Bronkhorstspruitdam aanleiding sou kon gee.

Geen antwoorde kon egter rondom die voortdurende probleem op die Delmas-gholfbaan verkry word nie.

Intussen het klagtes rondom die riooluitvloeisel in Eloff weer eens vir Streeknuus bereik.

“Eens ’n teerpad, nou ’n rioolpad,” het André Gildenhuys laat hoor.

Die rioolkrisis in Taylorstraat op Eloff skuins oorkant Laerskool Eloff se hoofingang duur reeds vir etlike jare voort.

Streeknuus het reeds sedert 2017 oor dié probleem berig. Daar blyk wel ’n moontlike oplossing te wees. (Streeknuus, Februarie 2022).

Die ongesonde en onwelriekende stand van die spruit wat deur die Delmas Gholfbaan vloei.

Dié probleem het glo ontstaan weens ’n onvoldoende septiese tenkstelsel by ’n woonstelblok wat digby die skool opgerig is.

Om sake te vererger, word die toevoerpyp wat riool vanaf die woonstelle na die septiese tenk lei, glo ook gereeld deur ’n nabygeleë vervoermaatskappy se swaarvoertuie beskadig.

Dit veroorsaak lekke wat verder daartoe aanleiding gee dat riooluitvloeisel in die strate beland.

Die DA-raadslid by VKLM, Diane Bath, het intussen bevestig dat planne rondom die riool deur die beheerliggaam van die betrokke woonstelblok goedgekeur is en aan VKLM voorgelê is.

Die datum waarop die werk sou begin, kon egter nie bevestig word nie.

Die sloot in die vleiland agter die Eagle Heights-woonstelle oorkant Laerskool Delmas is droog nadat ’n blokkasie uit die weg geruim is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button