Local newsStreeknuus

Legendes van Rooiplaas-valskermbataljon kuier op Bronkies

Die gevoel van kameradie was ooglopend en oud-spesialemaglede het lief en leed en baie herinneringe gedeel.

Veteraanlede van die Rooiplaas-valskermbataljon het tydens hul jaarlikse vergadering weer op Bronkhorstspruit gekuier.

Dit was egter nie net ’n vergadering nie.

Dié oud-spesmaglede, of meer algemeen bekend as recces, samel ook geld in vir die ‘In His Honour Foundation’.

Gaste, lede en sakelui het skenkings gemaak ten bate van die organisasie se bydrae tot die minderbevoorregtes.

Die geleentheid het op Saterdag, 30 Julie by The Little Forest Guest Lodge, net buite Bronkhorstspruit, plaasgevind.

Rooiplaas-veteraanvalskermspringers tree aan vir parade.

Die gevoel van kameradie was ooglopend en oud-spesialemaglede het lief en leed en baie herinneringe gedeel.

Onder van die bekende gaste was die akteur Johan Scholtz, bekende privaatspeurder, Mike Bolhuis en vele meer.

Die reëlings het aan die hand van Faan Roets, inwoner van Bronkhorstspruit, Nico Beneke en Naomi Haupt plaasgevind.

“Die spesiale reünie en vergadering, maar ook geldinsameling, word jaarliks op my plaas aangebied, maar vanjaar is daar besluit om dit na die Little Forest Gastehuis te verskuif,” het Roets gesê.

Daar is baie gesels oor die dae van ouds, die grensoorloë, die ontplooiïngs, die ontberinge, en die spesiale oomblikke van saam lag en saam huil tydens die spesmaglede se ‘dae op die grens’.

Johan Scholtz en sers.-maj. Koos Moorcroft.

Die formaliteite het ’n vergadering op Vrydag, 29 Julie, ingesluit.

Saterdag is ’n parade deur Johan Scholtz geopen.

Na afloop van die opening, was daar ’n vlaghysing waarna kransleggings aan die voet van die vlagpaal gedoen is om afgestorwe lede te vereer.

Roche Vermaak en sy hond, Markus, het ’n krans gelê vir die diere wat hul lewens opgeoffer het in diens van die weermag.

Die dag kon egter nie sonder ’n paar valskermspronge voortgaan nie en vir hierdie opwindende vertoning het Skydive, The Ranch, net buite Delmas se opgeleide valskermspringers gesorg.

Sommige van The Ranch se springers het ook hul opleiding onder die bekwame hande van die oud-weermaglede ontvang.

Valskermlede van Skydive, The Ranch net buite Delmas.

Daarna was dit tyd om na twee belangrike gaste se herinneringe uit die weermag te luister.

Legendes, sers.-maj. Koos Moorcroft en oud-gen. Hans Moller was onder die gaste.

Hoewel albei reeds hoog in lewensjare is, het hul klokhelder herinneringe en staaltjies die gaste en oud-spesmaglede op ’n reis na vervloë dae in C130 Hercules-vliegtuie, die gevaarlike ontplooiïngs van valskermsoldate, sak-Bybels en die vasklou aan Psalm 144 geneem.

“Die band van broederskap tussen lugsoldate kan nooit gebreek word nie,” het Moorcroft sy toespraak afgesluit.

Moller, wie se loopbaan in die weermag reeds in 1957 afgeskop het, het op sy beurt vertel waar die berugte Moller-marathon sy ontstaan gehad het.

Koos Moorcroft deel staaltjies met die gehoor terwyl oud-gen. Hans Moller aandagtig luister.

Roets het genoem dat twee sake-ondernemings op Bronkhorstspruit tot hul geldinsameling bygedra het.

“Ek wil veral vir Pick n Pay op Bronkhorstspruit dankie sê. Hulle het ’n substantiewe bedrag beskikbaar gestel waarmee die ‘In His Honour Foundation’ kos kan aankoop.

“Ook die Bronkies Slaghuis het ruim bygedra.

“Dankie ook aan JVR Sekuriteit van Bronkhorstspruit wat vir ons ’n wag vir die dag beskikbaar gestel het.

“Die dag was ’n reuse sukses en ek wil elkeen wat daartoe bygedra het, bedank.

Een van Skydive, The Ranch se valskermspringers maak professioneel met moeder aarde kennis.
Faan Roets aan die woord tydens die verrigtinge.
’n Valskermspringer van Skydive, The Ranch voer ’n presiesie landing uit.
Roche Vermaak en sy K9, Markus.

 

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button