Local newsSchools

Laerskool Secunda kry nuwe hoof

Man stel hoë mikpunte vir skool.

Jaco Bothma (35) het aan die begin van die derde kwartaal die leisels as hoof by Laerskool Secunda oorgeneem.

Hoewel hy op ’n plaas tussen Bethal en Morgenzon grootgeword het, was onderwys toe reeds in sy bloed omdat sy pa destyds ’n departementshoof by die Morgenzon Landbou Akademie was.

Bothma se onderwysloopbaan het by Laerskool Kalie de Haas op Standerton afgeskop waar hy, direk na sy matriekjaar, as studente-onderwyser begin het.

Hy was vir vier jaar by dié skool voordat hy dit verruil het en vir sy eerste departementele pos geskiet het by Laerskool Marietjie van Niekerk waar hy vir ’n jaar wiskunde vir gr.7-leerders gegee het asook kuns en kultuur.

“Ek het nog altyd my doelwitte hoog gestel en groot drome vir myself gehad,” het Bothma vertel.

Hy het later Bethal vir Secunda verruil en vir vier jaar by Laerskool Goedehoop wiskunde vir die gr. 7-leerders gegee.

Hy het in 2014 aansoek gedoen vir ’n departementshoof-pos by Laerskool Secunda en dit gekry.

Bothma het vir vier jaar by dié skool gewerk totdat hy na Harrismith verhuis het waar hy ’n adjunkhoofpos gekry het.

Hy en sy vrou, Karissa, en hul twee kinders van drie en vyf jaar oud, het egter vir sowat twee jaar in Harrismith gebly voordat Bothma as Laerskool Secunda se nuwe hoof aangewys is.

“Dit is lekker om terug te wees op Secunda, dit is ’n droom van my wat nou waar geword het, ek voel nou weer tuis.

“Laerskool Secunda is soos ’n familie vir my en ek wil voortbou op dié verhoudings.

“Dit is vir my ’n eer en ’n voorreg om terug te wees, maar dit is nog ’n groter voorreg om met kinders te kan werk, hulle is die kroon van die skepping.”

Bothma het baie geleer by die hoofde van al die skole waar hy al skoolgehou het.

Hy wil graag tegnologie meer bevorder by Laerskool Secunda en hy meen dié skool se sukses is te danke aan ’n spanpoging tussen die onderwysers, ouers, kinders, die beherliggaam en die gemeenskap.

“Ek bly altyd my mikpunte in die lewe hoër stel en as ’n mens sukses behaal, is dit net genade van God.”

Bothma glo ’n skool is die plek waar ’n kind moet kan droom, leer, leef en hulle grootwordjare geniet.

“Dit moet ’n plek wees waar ’n kind sy of haar skoolloopbaan met lekkerkry kan klaarkry.”

Bothma is lief vir sport en kultuur en in sy vrye tyd ry hy graaf fiets of perd.

Hy het by die bekende Secunda-inwoner, Dieter Üken geleer hoe om die saxofoon te speel en hy het vroeërjare in Hoërskool Oosterland se orkes gespeel.

Vir nou fokus hy egter meer op die skool en sy gesin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button