Bekende verkeersman van Delmas sterf
Gert de Meyer se loopbaan by die verkeersdepartement het reeds in 1976 afgeskop.
Alom bekend op Delmas as die verkeersman met die blink skoene, dit was Gert de Meyer.
Diabetes het egter sy tol geëis en op Sondag, 24 Julie het ’n groot boom op Delmas geval toe De Meyer in die ouderdom van 65 jaar gesterf het.
De Meyer laat na alle waarskynlikheid ook herinneringe by verkeersoortreders na, want hy was ’n man van die wet en het jy te vinnig gery of nie by ’n stopteken gestop nie, sou jy hom geken het as die man wat die boete geskryf het.
Volgens sy vrou, Marilyn de Meyer, het sy en Gert mekaar in 1979 op die korfbalbaan ontmoet.
Marilyn was reeds ’n kranige speler toe Gert tot die sport toegetree het.
“’n Blind date by my suster se huis in Springs het gevolg en ek het hierna net geweet dat Gert my trouman is,” het Marilyn gesê.
Die korfbal-liefde het geblom en Gert het ook sy Springbokkleure verwerf waarna hy vir twee jaar as Springbok-skeidsregter geblaas het.
Gert en Marilyn het op 29 November 1980 in die huwelik getree.
Uit die huwelik is twee kinders, Elmarie en Gert jnr. gebore.
Gert se loopbaan by die verkeersdepartement (TPA) het reeds in 1976 afgeskop.
Die De Meyer-paartjie het weens Gert se werk en gepaardgaande bevorderings draaie gemaak in Springs en op Ermelo.

Desember 1993 het Gert ’n betrekking as assistent-superintendent by die verkeersdepartement op Delmas aanvaar.
Die De Meyers was steeds in Springs gevestig, waar Marilyn, ’n verpleegkundige, ’n betrekking as ’n eenheidbestuurder by die Parkland Kliniek gehad het.
Met die nuwe bedeling vanaf 1994 was Delmas egter onder Mpumalanga geklassifiseer en die paartjie kon nie in Springs, Gauteng, aanbly nie.
Die De Meyers het hulle op Delmas gevestig en Gert het vir die Victor Khanye-verkeersdepartement gewerk.
Volgens Marilyn, het Gert in 2003 ’n hartomleiding ondergaan waartydens iets skeefgeloop het.
“Volgens sy dokter was die skok van die operasie en gepaardgaande komplikasies die oorsaak dat Gert ’n diabeet geword het.”
Diabetes het egter sy tol begin eis en teen die middel van 2019 het Gert se voet begin skeeftrek, wat as ’n diabetiese voet gediagnoseer is.
’n Operasie om dit te probeer herstel is uitgestel omdat hy ter selfde tyd ’n seertjie op die voet ontwikkel het.
Gert was te swak om die voetoperasie te ondergaan.
Komplikasies het weens ’n string gebeurlikhede ingetree en die voorste deel van Gert se voet is geamputeer.
Om sake te vererger, het Gert ook Guillain-Barre sindroom ontwikkel.
Die voet het septies geraak en dokters het besluit om dit onder die knie te amputeer.
“Gert het huis toe gekom en eintlik het dit goed gegaan,” het Marilyn vertel.
’n Bloedblaar het egter in Junie op Gert se ander voet ontwikkel.
Marilyn het vir Gert versorg en sy voet behandel.
Hy het egter in die hoësorg-eenheid opgeëindig waar sy gesondheid vinnig verswak het.
“Gert op die dag van sy dood vir my gesê dat hy ’n lig sien en dat hy lam is. Ek het vir hom gesê – ‘jy moet gaan, dis reg, die Here het jou kom haal’.”
Delmas se bobaas-verkeersbeampte se hart het kort daarna gaan staan.
Sy se begrafnis het op Vrydag, 29 Julie vanuit die Volle Evangelie Kerk op Delmas plaasgevind en die diens is deur pastoor Siena Joubert waargeneem.
Met ’n erewag en saluut het die Victor Khanye-verkeersdepartement finaal van hul kollega afskeid geneem.
Die De Meyer-gesin het elkeen wat hulle bygestaan en onderskraag het tydens Gert se afsterwe, bedank.
“Ons gemeenskap was staatmakers en ons bedank elkeen.”



