Vragmotor bars deur kerk op Cullinan se mure
“Ek het die vragmotor gewaar waar dit teen ’n vreeslike spoed oor ’n stop en boonop in ’n pad waar geen vragmotors toegelaat word nie, op die kerk afstorm.”
Die Rayton Buurtwag het vinnig reageer op ’n noodroep van ’n swaar gelaaide vragmotor wat glo die Hervormde Kerk op Cullinan goedsmoeds binnegejaag het.
Volgens Johann van de Linde, hoof van reaksie vir die Rayton / Cullinan-gemeenskapspolisëringsforum (GPF), het hulle op Maandag, 15 Augustus omstreeks 13:25 ’n oproep ontvang dat ’n vragmotor deur die Lid van Geloofsbond van Hervormde Gemeentes se Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan, se mure gebars het.
“Die nodige nooddienste was onmiddellik na die toneel ontbied.”
“Met ons aankoms op die toneel, het ons gevind dat ’n groot vragmotor vanaf die R515, oor die stop, deur die betonheining gebars het en in die ingangsportaal en kombuis van die kerk tot stilstand gekom het,” het Van der Linde Streeknuus meegedeel.
Met die vragmotor teen hoë spoed op pad na die kerk se kombuis, het drie groot bome boonop ook in die slag gebly.

Yvette Otto, werksaam by die kerk, het gesê dit het soos ’n aardbewing geklink en gevoel.
“Ek het pas ons koster en ’n ander vrou, wat daar was om te help opwas, by die kombuis ingelaat, toe dit gebeur het.
“Ons was net klaar om ons kombuisware en ander toebehore wat ons by ons kosstalletjie by KragDag gebruik het, af te laai.
“Die beplanning was dat die toerusting alles gewas en dan weer weggepak sou word,” het Otto vertel.
“Ek het die vragmotor gewaar waar dit teen ’n vreeslike spoed oor ’n stopstraat en boonop in ’n pad waar geen vragmotors toegelaat word nie, op die kerk afstorm.
“Dit het so vinnig gebeur en ’n mens kon maar net in ongeloof en skok waarneem wat besig was om voor jou oë af te speel,” het Otto ook gesê.

Teen druktyd was verskeie ander vragmotors op die toneel besig om die vrag vanaf die vragmotor wat in die ongeluk betrokke was, af te laai.
Volgens Otto, moes tonne steiers van die vragmotor verwyder word.
Die vragmotor het oornag bly staan en die vermoede bestaan dat ’n gedeelte van die struktuur inmekaar sou val sodra die vragmotor verwyder sou word.
Die strukturele skade aan die gebou is groot en boonop het die vragmotor bo-oor ’n kas met van die kerk se grootste kosbaarhede gery.
“Ek glo ons spierwit damask-tafeldoeke lê nou onder die vragmotor.”

Die bestuurder van die vragmotor is op die toneel vir sy beserings behandel waarna hy per ambulans na die Montana Hospitaal geneem is.
Die passasier het geen ernstige beserings opgedoen nie.
Die koster van die kerk het, volgens Otto, slegs ’n kniebesering opgedoen.
Geen ander ernstige beserings is aangemeld nie.
“Ons mense was uiteraard erg geskok, maar ons prys die Here dat niemand ernstig beseer is nie. Dit kon soveel erger gewees het.”
Volgens Van Der Linde word die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
Teen druktyd kon skadebepaling nog nie gedoen word nie.





