Standerton-inwoners gee Sakkie Zwarts ’n getuigskrif
Die respek waarmee hy omgegaan het met mense, is ook genoem, asook sy empatie.
Sakkie Zwarts van Standerton dwing respek af, juis omdat hy die afsterwe van geliefdes met soveel respek hanteer het.
Sakkie was reeds op 31-jarige ouderdom in beheer van die begrafnisonderneming en aktief werksaam tot Maart vanjaar, waarna hy weens gesondheidsredes uitgetree het.
Dié begrafnisondernemer is deurgaans deur inwoners as iemand met lofwaardige karaktereienskappe beskryf.
Sy dagtake het onder meer behels dat hy die traumatiese gebeure op so ’n wyse bestuur het dat telefoonoproepe en inwag by ’n kliniek nie vreemd vir hom was nie.
Die familie se instap by kerkdienste en die begrafnisstoet is met waardigheid gelei.
Sakkie is in 1948 op Standerton gebore en het na skool in 1968 by sy pa in die onderneming aangesluit.
Hy het in 1979 die onderneming oorgeneem.
Drie generasies Zwartse het die leed van die inwoners meegemaak.
Sakkie en sy eggenoot Josephine, se kinders Fientjie, Manie, Zach en Louise het dié bestuur van sake sekerlik saam met moedersmelk ingekry.
’n Paar inwoners het geredelik ingestem om te praat oor die pad wat hy saam met hulle gestap het.
Daan Grobler wie se ouers se afsterwe behartig is, beskou hom as baie professioneel.
“Hy het respek vir sy beroep, vir die oorlewendes en vir die afgestorwenes,” is opgemerk.
“Ek dink nie daar is nog so ’n mens in Suid-Afrika nie.”
Trudie van der Merwe beskou hom as een van die familie.
“Sakkie het ’n wonderlike geaardheid, is liefdevol en ’n mens met empatie,” het sy gesê.
“Hy het tydens Niklaas se siekbed gereeld gebel om navraag te doen.”
Sy het ook gesê dat daar nie weer so ’n mens op Standerton sal wees nie, hoewel Manie haar al daadwerklik van raad bedien het.
Cobus Prinsloo het klem op sy sagmoedigheid tydens sy moeder Susan, se afsterwe, gelê.
“Hy verstaan dat dit ’n traumatiese tyd in jou lewe is,” het hy gesê.
Die respek waarmee hy omgegaan het met mense, is ook genoem, asook sy empatie.
Yolandi Kasselman het by meer as een geleentheid met hom te doen gekry en sy professionaliteit beklemtoon.
“Hy het altyd ’n das gedra as hy gewerk het,” het sy gesê.
“Hy het ook baie moeite gedoen en die dood van ’n geliefde hanteer asof dit ’n familielid van hom was.”
Delarey Tonkin het gesê dat Sakkie al sy familie se begrafnissake hanteer het en sy medelye het hom beîndruk.
“Ons sal nie gou weer ’n begrafnisondernemer soos hy kry nie,” het hy ook gesê.
“Ons hele familie praat met lof van hom.”
Sakkie Zwarts se kinders wou op hierdie wyse hul dankbaarheid vir sy diens en ondersteuning in die gemeenskap oordra.



