Jerigo Opheffingsoord op Eloff vier vrouwees
“Dit maak nie saak waar ’n vrou in haar lewe is nie, sy staan elke dag met hernude veg vir oorlewing op en kom daardeur.”
Die vroue van Jerigo Oord op Eloff was bederf as deel van die vieringe van die vroue van Suid-Afrika gedurende vrouemaand.
Jerigo Oord is bekend daarvoor dat hulle baie doen vir die minderbevoorregtes en roem hulle daarop dat hulle mense in nood ophef.
Gaste wat die gesellige funksie op Vrydag, 12 Augustus bygewoon het, is Cathrine von Molendorf, Diane Bath van die Demokratiese Alliansie (DA), Annerie Weber, lid van die parlement vir die DA, Toyota Knight Tanya Pretorius, Elsabé van Zyl van Born to Care en vele meer.
Die vroue is bederf met eetgoed terwyl die vroue van Jerigo reggestaan het om koffie en tee te bedien, waarna die verrigtinge met gebed geopen is.

“Ons is almal vroue en ons het almal probleme, maar so is ons ook almal daar vir mekaar. Elkeen van ons vroue is belangrik,” het Bath gesê.
Weber het beaam dat die vroue van Suid-Afrika baie swaar kry. Daar is dinge soos armoede, voedseltekorte, gesondheidsprobleme, aanranding en verkragting. Vroue word alleen gelaat of sukkel soms net om hul kinders op skool te kry en te hou. Dié dinge is waarmee die vroue van vandag daagliks worstel.
“Ek wil vir julle verseker dat indien julle een van daardie vroue is, julle is nie alleen nie,” het Weber gesê.
Weber het bygevoeg dat die vroue van Suid-Afrika veerkragtig en sterk is.
“Elke aand gaan slaap ’n vrou met trane in haar oë, maar elke oggend word sy wakker, reg om die dag aan te vat en vir haar kinders te sorg vir kos, skool en om haar persoonlike probleme te hanteer.”
Weber het verder genoem dat sy elke vrou se vrouwees vier.

“Dit maak nie saak waar ’n vrou in haar lewe is nie, sy staan elke dag met hernude veg vir oorlewing op en kom daardeur.”
“Dankie dat julle nooit opgee nie en wees verseker dat julle as vroue waardeer word. Wees verseker dat God nie Sy kinders vergeet nie.
“Ons beloning is in die Hemel en nie op aarde nie.”

Elsabé van Zyl van die Born to Care-organisasie op Delmas was volgende aan die beurt.
Born to Care is ’n organisasie wat swanger vroue en veral ongehude moeders help om hul babas te behou.
Dié organisasie staan die vroue by, doen behoeftebepaling en gee ook berading.
Ook Van Zyl het die belangrikheid van vrouwees, die keuses oor wat ’n vrou vir haar liggaam maak en die belangrikheid om swangerskappe binne die huwelik te hou, bespreek.

“Elke vrou moet haar lig laat skyn, ongeag van waar sy haar bevind.
“Gee vir ander om en styg bo jou omstandighede uit.
“God het jou as vrou op hierdie aarde geplant en al is dit hoe moeilik, verwag Hy steeds van jou om jou lig te laat skyn en om te gee vir ander,” het Van Zyl gesê.
Spieëltjies is uitgedeel met die idee dat ’n vrou elke dag daarin moet kyk en haarself daaraan moet herinner dat sy kosbaar, mooi en spesiaal is.
Geskenkies het ingesluit sanitêre ware, bederfpakkies en bosse bomme soos deur Tanya Pretorius, Delmas se eie Toyota Knight geskenk.
Hierna was dit tyd vir saam smul aan die koek wat deur Celso Dos Santos, eienaar van Pick & Pay op Delmas, geskenk is.
Cathrine von Molendorf, die organiseerder van die funksie, het elkeen wat bygedra het asook al die borge en die sprekers bedank.
“As dit nie vir hulle was nie, sou ons nie die so’n unieke Vrouedag vir die spesiale vroue van Jerigo Oord kon aanbied nie.”




