KragDag stel weer nie teleur nie, groter en beter as ooit
Met ’n karnival-gees en massiewe buitelug-ekspo was daar weer iets van alles vir elkeen.
Besoekers en uitstallers se kommentaar op sosiale media het dit eens; vanjaar se KragDag was selfs groter en beter as enige van die voriges.
Die KragDag-ekspo wat sedert 2019 ’n jaarlikse instelling geword het, bied groot waarde vir besoekers en uitstallers.
Met ’n karnival-gees en massiewe buitelug-ekspo op die Diamantvallei-landgoed naby Rayton was daar weer iets van alles vir elkeen.

“Hoewel daar ’n groot hoeveelheid vermaak by die ekspo te beleef is, is hierdie geleentheid uniek daarin dat jy hier nie ’n vermaaklikheidtoeskouer is nie, maar ’n deelnemer in interaksie met dinge wat ’n verskil in jou lewe kan maak. “Die effek van die vrywees-filosofie wat integraal deel is van KragDag en die uitstallings wat hiermee handel, kan ’n groot impak op jou lewe maak,” het die organiseerders op die KragDag Facebook-blad laat hoor.
Die KragDag-raadsaal het ook talle lesings en paneelbesprekings deur bekende kenners oor ’n verskeidenheid onderwerpe gebied.
KragDag se hooftema is egter dié van selfstandigheid ten einde die publiek minder afhanklik van ’n staatsbeheerde lewe te maak.

Om die publiek in te lig oor hoe om onafhanklikheid te bereik, was daar meer as genoeg uitstallers met betroubare en bekostigbare oplossings in sonkragtegnologie, wateropvangs- en suiweringsbedryf asook akwaponika- en hidroponiese stelsels en boorgatoplossings.
Of jy nou in die mark was vir kraggereedskap, 3D-drukkers, plaastoerusting, kooktoerusting, opvoedkindige hulpmiddels, 4×4-sleepwaens of gastoerusting, daar was iets van alles.
Die ten volle elektriese voertuie het ook groot aandag gekry.

Dan was daar ook veiligheidsalarms en -kamerastelstels, brandtoerusting en soveel meer.
Die vlytige skaapskeerspan van die landgoed het menige belangstellendes na die uitstalruimte gelok.
Vir die lekker-bekke was daar vars heuning, fudge, biltong, tuisgebroude mampoer en vele meer om saam huis toe te neem.

Aan eetgoed vir die besoekers was daar ook geen tekort nie en mense kon weglê aan burgers, worsrolle, roerbraai, pap en kaiings, pannekoek, vetkoek, pizza, roomys, aarbeie met room, tuisgebroude gemmerbier en sommer baie ander lekkernye.
Die biertuin het iets op die ys vir die dorstige ekspo-gangers gebied.
Daar was lewendige musiek en kunsoptredes wat vir die vermaak van besoekers gesorg het.
Radiostasies, soos Pretoria FM, radio Nuwe Lied en Plaas Media uit die omgewing het seker gemaak dat luisteraars en ekspo-gangers ingelig gebly het oor wat die ekspo bied.

Sakeliga, Soladiriteit Helpende Hand, die Vryheidsfront Plus en ander het ook ekspo-gangers ingelig gehou.
Stalletjies met handgemaakte leerprodukte, gesondheidsmiddels, meubels, kuns, aartappelsalf vir alle kwale, velprodukte, juwele, klere vir mans, vroue en kinders het die beursies hard laat werk.
In die arena was daar miniatuur-perdjies, berede boogskutters, bythonde en vele meer te sien.

Daar was ook hommeltuigdemonstrasies, helikopterritte, brandblusdemonstrasies en hope vermaak vir die kinders.
“Beslis die moeite werd. Net heeltemal te veel om in een dag te sien.
“Vrou en kinders het my beursie leeg gekoop en ek het ’n kop vol planne vir selfbeskikking.
“My maag is vol, my voete seer, maar dit was elke minuut wat ons hier bestee het, werd. Volgende jaar kom ek baie beslis weer, sal dit moontlik net oor twee dae moet doen, want een dag is te min,” het Sias Delport van Pretoria, Streeknuus meegedeel.












