Gerard Büter van Standerton slaan vakmanskap hoog aan
“Oortyd was destyds normaal en die langste skof wat ek gewerk het, was 72 ure aanmekaar.”
’n Perfeksionis soos die Hollander, Geert Büter, sal nimmer as te nooit ’n meubelstuk uit sy motorhuis laat gaan as hy nie tevrede daarmee is nie.
Om dit ’n motorhuis te noem, is nie heeltemal korrek nie, want dit is meer van ’n werkslokaal, gepak met meubels wat aandag nodig het.
Vir die blote oog lyk dit haas onmoontlik om die houtstukke in verskillende stadiums van verval te restoureer, maar Geert kan maar.
Die ‘Geert’ is eintlik die Gerard wat ’n meubelmaker is.
Skoonpa Retief het destyds met die houtwerklem opgedaag toe ’n spieëlkas, wat ’n erfstuk was, herstel moes word.
Hy was nog ’n ‘laaitie’ op skool, toe die gogga hom gebyt het.
“Ek het die sleutels van die houtwerkklas gekry en daar gaan werk in die middae,” het hy vertel.
Met sy pa die meganiese ingenieur, het Geert 22 skole, meestal in KwaZulu-Natal, bygewoon.
Sy ma was gewoond daaraan om die teekiste in en vol te pak, met die aanwysings op die deksel, vir die volgende bestemming.
“Ek het op 13-jarige ouderdom my eie sakgeld begin verdien.”
Die paaie met Gerda sy eggenoot, het gekruis op Harrismith waar albei in losieshuise gebly het.
Gerda het in die bank gewerk en hy het by die spoorweë begin werk, ’n loopbaan wat oor 42 jaar gestrek het.
Hulle huweliksbevestiging het in 1980 op Kestell plaasgevind.
Die Büters het twee dogters, Anél en René en drie kleinkinders, Jean-Roux (11), AJ (13) en Carol (16).
Nie om in te veel detail in te gaan oor ’n onderonsie of twee met ’n stasiemeester deur die jare nie nie, was Geert gereed om vir ’n pos op Standerton aansoek te doen.
“Ek het 13 keer aansoek om die betrekking gedoen,” aldus die treinman.
“Oortyd was destyds normaal en die langste skof wat ek gewerk het, was 72 ure aanmekaar.
“Ek is van die ou garde wat geleer het om te werk.”
Harrismith, Steynsrus, Hennenman vir 14 jaar, noem maar op, was hulle dorpe.
Hy het in die amp van treinbeheeramptenaar afgetree en is van mening dat Standerton die lekkerste plek is waar hulle gebly het.
Hy het 10 jaar gelede sy been gebreek nadat hy tussen die disselboom en die bakkie geval het.
Die breuk het uiteindelik nie geheg nie en daar was geen genade nie, dit moes amputeer word.
As die koue op die Hoëveld toeslaan, gee sy been hom soms opdraande.
“’n Mens moet taai wees as jy ouer raak,” het Geert droogweg opgemerk.
Hy kyk geen sport op televisie nie wat moeilik is om te glo as jy sy sportprestasies nagaan.
Hy was Victor Ludorum in sowel standerd 5 as standerd 7, ’n Noord-Natalse swemmer, gimnastieklesse gegee en deeglik onderlê in pistoolskiet.
Geert kan sweis, motors herstel, houtwerk doen, elektriese toebehore regmaak en ook skets.
Blokkiesraaisels is ’n ander gunsteling en veral die boeke van Louis L’Mour spreek tot hom.
Wat kan op sy emmerlys wees?
“Werk,” het hy onomwonde verklaar.



