Lede van Delmas VLU leer hoe om perfekte fondant-rose te maak
Chris Botha is bekend op die dorp vir sy suikerkuns.

Tydens die Vrou Landbou Unie (VLU) van Delmas se onlangse vergadering het die vroue vir ’n interessante en leersame klas aangeklop.
Die vroue het op Dinsdag, 16 Augustus, suikerkuns as ’n nuwe vaardigheid op die spyskaart gehad.
Na afloop van die formele vergadering het die voorsitter, Marié Terblanche, vir plaaslike suikerkunskenner, Chris Botha verwelkom.
In Delmas geledere is Chris beter bekend as Tiny.
Die verwelkoming het egter nie nét om die deel van sy kuns gegaan nie.
Botha het ook ’n baie belangrike funksie in een van die Delmas VLU-lede se lewens gespeel.

Jané Oosterhuis, wat reeds vir etlike jare dialise weens ’n wanfunksie van haar niere moes ontvang, se lewensgehalte het van die skenking van ’n geskikte nier afgehang.
Etlike maande gelede het hierdie lewensgewende skenker opgedaag en dit was niemand anders as Oosterhuis se eie broer, Botha nie.
Ná die nodige toetse, was Botha as gepaste skenker geïdentifiseer.
Oosterhuis het ses maande gelede ’n nier van haar broer ontvang.
Albei is perdfris en gesond en vandag kan Oosterhuis weer ’n normale lewe lei.
“Dit gaan uitstekend met haar, sowel as met Chris.
“Vir die eerste keer in sewe jaar kon sy op vakansie gaan sonder om dialise te ontvang,” het Magriet Swart, skakelbeampte van die Delmas VLU, laat hoor.
Ná dié positiewe brokkie nuus, het Botha voortgegaan om vir die vroue meer oor suikerkuns te leer.
“Almal het noukeurig toegekyk hoe Botha die stappe volg om perfekte rosies te maak waarmee enige koek versier kan word,” het Swart verder gesê.
Botha het bietjies fondant in verskillende skakering van pienk gekleur.
Die fondant is dan gebrei soos wat ’n mens met klei sou doen totdat dit lekker sag en hanteerbaar is.
Hierna het Botha bal-grootte stukke in ewe dik rolle gerol.
Sy volgende stap was om stukkies van sowat 1cm af te sny en dit tussen plastiekvelle plat te rol, die een kant effe dikker as die ander kant.
Die bou van die roos het dan begin deur blaartjie vir blaartjie by te voeg en onder vas te druk.
Daar is by die donkerste skakering begin en die rosie het met die ligste skakering aan die buitekant geëindig.

“Die vroue het almal in verwondering oor die eenvoud daarvan om die pragtige roos te maak, gestaan.”
’n Mens kan boonop die enkele roosblare klaar maak en vir ’n onbepaalde tyd in ’n lugdigte houer stoor om gereed te hê om vinnig ’n koek mee te versier,” het Swart vertel.
Volgens Swart, word ’n mens, omring met soveel kreatiwiteit, na ’n ander gedagte-wêreld meegevoer en hardloop die tyd heeltemal te vinnig uit.
“Ons vroue was weer eens vernuwe en geestelik geïnspireer.”
Die Delmas VLU-tak nooi alle vroue vanaf 18 jaar om by hulle aan te sluit.
“Kom deel in die bevrediging van kreatiwiteit en leersaamheid op gesellige wyse.”
Navrae kan aan Marié Terblanché by 083 968 2203 gerig word.



