Local news

Monica Swart van Standerton se stokperjie ontwikkel in volskaalse boerdery

sy hou weliswaar ’n ogie oor haar bye en vul hul inname bo-op die kas met ’n lepeltjie of twee van ’n plaasvervanger vir stuifmeel aan.

Monica Swart het na haar aftrede as kampusbestuurder by die Skills Academy van Gert Sibande Kollege, ’n totaal nuwe rigting ingeslaan.

Tydens haar kort afskeidsgeleentheid, het kollegas haar gevra wat sy nou gaan doen.

“Ek gaan met bye boer,” het inspirasie haar laat antwoord.

Monica het daad by die woord gevoeg en met al die entoesiasme waarmee die B.Com-gegradueerde haar loopbaan by die kollege aangepak en afgehandel het, het sy tot die byebedryf toegetree.

’n Tweedaagse kursus in Johannesburg waar die teoretiese en praktiese sy van byeboerdery behandel is, het gevolg.

“Ek boer nou met bye vir sowat ’n jaar en ’n half, maar het nog nie heuning geoes nie,” het sy laat blyk.

Haar beskermende klere en handskoene, roker en ’n leë kas of wat in die motorhuis, is in plek vir die uittog plaas toe, waar die ander kaste met bye staangemaak is.

Daar is destyds drie kaste aangeskaf en sy kon haar opwinding vir die eerste intrekkers skaars beteuel, maar helaas:

“Bye trek nie maklik van een plek na ’n ander oor nie.”

“Hulle moet hou van hul nuwe omgewing.”

Die Hoëveld se koue winter is trotseer met twee bloekombome wat geblom het om stuifmeel aan die bye te gee.

Weliswaar hou sy ’n ogie oor haar bye en vul hul inname bo-op die kas met ’n lepeltjie of twee van ’n plaasvervanger vir stuifmeel aan.

Monica Swart van Standerton by een van die byekaste op die plaas.

“Mense besef nie hoe belangrik bye is nie,” het sy gesê.

“As die toenemend krimpende byebevolking sou uitsterf, sal ons nie genoeg kos hê nie.”

Een kas kan sowat 50 000 bye huisves waarvan die koningin, sowat 100 manlik en die res vroulik.

Monica het al by meer as een geleentheid bye gaan haal om plaas toe te bring en selfs ’n uilkas by die Sasol-myne het ’n vonds opgelewer.

’n Slegte ondervinding by ’n byekolonie, hoewel nie die reël nie, het ook oor haar pad gekom.

“By sekere situasies kan ’n mens regtig nie help en bye red nie.”

Sy is geheel en al gekant teen die spuit van gif in haar dorpstuin en die byekaste op die plaas, moet nie te naby aan die land wees nie, juis omdat bye so sensitief vir gif is.

Haar mentor en hulp staan haar egter met raad en daad by.

Met haar onderhoudende verteltrant het sy al vir praatjies oor haar stokperdjie gesorg, een by die die VLU se Vaalrivier-tak, waarvan sy ’n ingeskrewe lid is.

Monica waag ook haar hand aan hekel en die een kombers getuig van ’n ouma se meelewing met kleinkinders.

Pieter en Monica Swart het altesaam sewe kleinkinders tussen die vier kinders, met ouderdomme van die kleinkinders wat wissel tussen 21 jaar en kleuters.

Monica is ’n gereelde gesig by Standerton Trapklub se wedrenne en die parkrun op Saterdae word ook getrou bygewoon.

Haar beroep by die kollege het haar al in Abu-Dhabi en Rusland laat beland en sy het ’n drie-maande-lange uitruilskema in Engeland bygewoon, waar kers opgesteek is by die kolleges oor hulle werkswyse.

Die status van kolleges in Suid-Afrika in na haar mening nie heeltemaal gewens nie, hoewel meer en meer jong mense die belangrikheid van ’n ambag begin raaksien.

Met haar rekenkundige agtergrond, sal sy gewis die boeke vir die boerdery kan laat klop.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button