Paartjie van Delmas vier hul 62ste huweliksherdenking
Die liefde het geblom en die twee is 62 jaar gelede op 20 Augustus, 1960 in die N.G. Kerk op Salisbury getroud.
Getroud in 1960 en na 62 jaar is hulle steeds gelukkig getroud.
Dit is Sarel en Lena Cloete, inwoners van Malita Aftreeoord op Delmas.
Volgens Lena het sy en Sarel mekaar by die Beatrice Klub in die destydse Rhodesië, nou bekend as Zimbabwe, ontmoet.
Lena het verder genoem dat Sarel se ouers op die plaas Huntcroft, ook in die Beatrice-omgewing gewoon het.
Lena se ouers, Joek en Maude Botha, was op die Plaas Eden, ook op Beatrice woonagtig.
Die liefde het geblom en die twee is 62 jaar gelede op 20 Augustus, 1960 in die N.G. Kerk in Salisbury getroud.

Die egpaar het in 1978 na Suid-Afrika verhuis waar hulle in die Delmas-omgewing geboer het.
Ná aftrede het hulle na die Malita Aftreeoord op Delmas verhuis waar die egpaar reeds die afgelope 14 jaar woon.
Dit kon nie anders nie, want ouma Miema Cloete, Sarel se moeder, was self een van die eerste inwoners van Malita gewees.
“Ons het vier pragtige dogters en skoonseuns. Ons is verder geseën met drie kleinseuns, drie kleindogters en een agterkleindogter, elkeen van hulle oupa en ouma se oogappels,” het Lena laat hoor.
Dankbare en geseënde kinders en kleinkinders het die volgende laat hoor: “Ons wil ons ouers, ouma, oupa, oumagroot en oupagroot met jul 62ste huweliksherdenking gelukwens.”
“Dankie vir die pragtige voorbeeld wat julle altyd vir elkeen van ons was en steeds is.
“Mag daar nog baie mooi jare, gevul met Jesus se liefde, gesondheid en krag, wees.”
“Ware liefde deurstaan en oorwin alles.”



