Cullinan Polisie trek drie met springstof vas
Drie mans was in hegtenis geneem nadat hulle met ’n sak met plofstof in hul voertuig betrap was.
Die polisie op Cullinan het drie verdagtes in hegtenis geneem vir die oortreding van die Wet op Springstowwe, Wet 15 van 2003.
Die polisie het tydens die roetine-uitvoering van hul pligte, inligting ontvang dat verdagtes glo beplan om ’n outomatiese tellermasjien (OTM) in Refilwe op te blaas.
Drie mans is in hegtenis geneem ná hulle met ’n sak springstof in hul voertuig betrap is.
Volgens die Wet op Springstowwe, mag geen persoon in besit wees van springstof of enige daad daarmee uitvoer nie, insluitende handeldryf, vervaardig, invoer, uitvoer en verpakking, behalwe as ’n wettige lisensie of permit in terme van die wet bekom is nie.
Die bevelvoerder van die Cullinan Polisie, kapt. Christiaan Gertzen, het die lede geloof vir die uitvoering van hul take en wie die veiligheid van hul gemeenskappe eerste stel.
“Ek moedig lede aan om hul take sonder vrees of guns uit te voer,” het Gertzen gesê.
Teen druktyd het die polisie op Cullinan bevestig dat die drie binnekort in die Cullinan Landdroshof sal verskyn.




