Dottie Botha van Standerton gesels oor ’n vol lewe
Haar ma Lily, het die klein dogtertjie op haar skoot laat sit, terwyl sy die Singer-trapmasjien laat werk het.
’n Vrou wat self erken dat sy uitgesproke is, het ’n vol lewe as sakevrou by ’n vulstasie en boetiek gelei.
Dottie Botha het in 2011 haar intrek by die Kosmos Afree-oord geneem en is van mening dat dit die beste besluit is wat sy ooit geneem het.
Die Bothas, wyle Carel en Dottie het in Augustus 1966 na Standerton verhuis en vir byna 30 jaar ’n vulstasie en restaurant in Meyerville bedryf.
“Ons het drie jaar lank gewerk voordat ons vir ’n naweek kon weggaan,” het Dottie vertel.
Maar dit is nie eintlik waar Dottie se talente ontgin is nie.
Haar ma Lily, het die klein dogtertjie op haar skoot laat sit, terwyl sy die Singer-trapmasjien laat werk het.
“Ek was altyd met lappe, naalde en gare deurmekaar en is met ’n naald in my hand gebore.”
Dottie het na skool ’n ontwerpkursus vir ’n jaar gevolg en met haar tuiskoms, was dit matriekafskeidsrokke, trourokke en veral in daardie dae, die stylvolle aanddrag wat die vroue benodig het.
Sy was later so gekonfyt, dat sy op ’n Woensdag die rok vir ’n afskeid kon sny en dit was klaar teen die Vrydag.
Haar uitsoekpatrone het die figure perfek gepas.
Haar moed het haar egter byna begewe by die maak van een trourok toe die kant alleen, sowat R2 000 ’n meter gekos het.
Buite die kerk het sy wel ’n kompliment gekry.
Carel en Dottie het mekaar by die vulstasie afgelos, wat vir haar die geleentheid gegee het om agter die naaimasjien in te skuif.
Die boetiek later jare op die dorp was ’n natuurlike uitvloeisel.
Carel is in 2004 oorlede en hul kinders, met die uitsondering van Martin, het almal sedertdien verhuis.
Barnie, Carel en Mario is die ander seuns.
Mario die laatlam, het sy opwagting gemaak toe Dottie 41 jaar oud was.
“Ek sal enigiemand aanbeveel om ’n laatlam te hê.”
Lilene, die enigste dogter, het in 2014 haar stryd teen pankreaskanker verloor.
Dottie spog met sewe kleinkinders en skoondogters Vogan en Lizette, wat ’n belangrike rol in haar lewe speel.
Kaart, kaart en nogmaals canasta is deurnag by die Bothas gespeel as die vriendinne gekuier het.
Later die aand as Carel hom uit die voete gemaak het, het die vroue begin veerpyltjies speel.
Die Bothas het Europa verken, ’n draai in die Seychelles en Mauritius gemaak en veral die Franse platteland, was ’n voorkeurbestemming.
Dottie het al drie keer na Australië gereis om vir familie te gaan kuier.
’n Ander lewendige belangstelling is sport.
“Ek is sportmal,” het sy beken.
Sy het tot op 32 jaar vir die dorp netbal gespeel en nou kyk sy op televisie byna alles.
“Ek kyk net rofstoei as ek wil lag.”
Benewens ’n paar oumensskete, het ’n ligte beroerte tydens ’n besoek aan Barnie op Middelburg haar platgetrek.
Haar seun is met die koronavirus gediagnoseer, maar Dottie het op doktersaanbeveling vitamienaanvullings gedrink en Covid vrygespring.
Blokkieraaisels is haar kos, sy hou van speurverhale en vind Jeffrey Archer en Deon Meyer boeiend.
Dottie Botha koester haar vriendekring, bou familiebande, maar bewaar jou siel as jy enigiets negatief oor die ouetehuis in haar teenwoordigheid sê.
“Ek bly soos ’n koningin hier en word soos een behandel,” het sy verklaar.



