Local newsStreeknuus

Jongman van Cullinan erg beseer in tref-en-trap

Nico Villavicencio se ouers het baie vrae na hy in Cullinan raakgery is.

Maande van herstel lê nog voor vir ’n jongman van Cullinan wat op 1 Januarie ernstig in ’n tref-en-trap-ongeluk beseer is.

Nico Villavicencio (25) is dié oggend omstreeks 03:00 in Oaklaan raakgery.

Die skoktoneel waar hul oudste kind bykans leweloos in die straat, wat in digte mis gehul was, gelê het is ’n prentjie wat vir ewig in Johan en Sandra Villavicencio se geheue sal bly.

“Dit was verskriklik. Ek het gedink my kind is dood.”


Nico Villavicencio (25) is in die waakeenheid van die Milpark Hospitaal nadat hy op Nuwejaarsdag op Cullinan raakgery is.

Nico en Johan se werkgewer, Diamond Alarms, het die ouers van die ongeluk laat weet. Hy het die Oujaarsaand by ’n vriend gaan kuier.

Vriende het glo gesien hoe ’n wit Corsa-bakkie met donker ruite vir Nico getref het en ’n ent gesleep het.

Volgens hul verklarings het die bestuurder nie eers stilgehou om te kyk of Nico hulp nodig het nie, maar het van die toneel gevlug.

Kort na Johan en Sandra se aankoms op die toneel is Nico per ambulans na Die Wilgers Hospitaal gejaag.


LEES OOK: Jason Botha’s body found in family dam in Boschkop area


“Hy is van daar per helikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesburg geneem,” het Sandra vertel.

Nico is tans in die waakeenheid en die Villavicenciose is meegedeel dat hul seun waarskynlik eers oor twee maande gereed sal wees om na ’n ander saal oorgeplaas te word.

“Die dokters glo Nico gaan teen sy 26ste verjaardag op 4 Februarie steeds hoësorg benodig,” het Sandra vertel.

Volgens Sandra is van Nico se ribbes, sy linkersleutelbeen en linkerbladbeen gebreek. Sy linkerlong het platgeval en sy borsbeen en ’n nekwerkwel is gekraak.


Nico Villavicencio (25) sterk aan in die waakeenheid van die Milpark Hospitaal nadat hy op Nuwejaarsdag op Cullinan raakgery is. ’n Familielid het 9 Januarie die foto geneem.

Nico het ook kopbeserings en verskeie skraapmerke en kneusplekke oor sy lyf opgedoen.

Hy was vir ’n paar dae in ’n mediese koma geplaas omdat ’n lugpyp in sy keel hom moes help asemhaal.

“Nico is intussen wakker gemaak en haal nou op sy eie asem, maar weens sy erge pyn word hy meestal onder verdowing gehou,” het Sandra verduidelik.

“Dit breek my hart om my kind so stukkend te sien. Hoe kan jy iemand net raakry en dan wegjaag? Ons is kwaad, bang en bekommerd. En daar is dinge wat nog vir ons duister is. Ons het soveel vrae wat net Nico vir ons sal kan beantwoord.”

Die egpaar is dankbaar vir almal wat hulle die aand gehelp het.

“Ek wil in besonder vir die Rayton en Cullinan Buurtwag se Johan 5, Diamond Alarms personeel en die paramedici van Promed Ambulansdienste bedank,” het Sandra gesê.

Volgens Sandra is een van Nico se skoolvriende, Markie, ook Oujaarsaand in Rayton raakgery.


Nico Villavicencio is ernstig beseer in ’n tref-en-trap-ongeluk vroeg op Nuwejaarsdag. Hy is tans in die intensiewe sorg-eenheid van die Milpark Hospitaal in Johannesburg.

“Ons is verstom. Eers het Markie seergekry en is hy in die hospitaal opgeneem, toe gebeur dieselfde ding met Nico. Markie sterk darem nou tuis aan,” het Sandra bygevoeg.

Die afstand tussen Cullinan en die hospitaal vat ook aan die Villavicenciose.

“Ek sal graag by my kind wil wees, maar dis ver. Ons ry dus so twee keer per week hospitaal toe.”

Nico is nog op Sandra se mediese fonds en hoewel dit die hospitaal-koste dek, is daar nog heelwat rekeninge en uitgawes wat die Villavicencio-egpaar in die gesig staar.


Nico Villavicencio is op 1 Januarie hier in Oaklaan op Cullinan in ’n tref-en-trap-ongeluk beseer.

’n Familielid het ’n BackaBuddy-profiel opgestel om die gesin te help met die mediese onkostes. Besoek dié profiel by https://www.backabuddy.co.za/sandra-villavicencio-5484107780322058596.

Lesers kan ook vir Sandra ’n WhatsApp-boodskap stuur as hulle op ’n ander manier wil help. Stuur die boodskap na 084 765 9346.

Die polisie ondersoek intussen die saak. Enigeen met inligting oor die tref-en-trap-ongeluk kan Cullinan Polisiestasie skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button