Johan Odendaal, die mense-mens van Delmas, word gegroet
“Ons sal jou groot gees, geite en geselsies ongelooflik baie mis en vir altyd koester. Ons is oneindig lief vir jou. Jy is, en sal vir altyd, ons absolute hero wees.”
By Odendaal en Kruger Prokureurs op Delmas was hulle soos een groot familie, maar op die laaste dag van Desember verlede jaar het alles in ’n oogwink verander.
Die Odendaal van Odendaal en Kruger Prokureurs het sy kort stryd teen kanker verloor. Johan Odendaal (63) het gedurende September vir drie weke in Namibië vakansie gehou.
“Kort na sy terugkeer en gedurende Oktober verlede jaar het ons agter gekom dat Johan nie homself is nie,” het sy vennoot Barend Kruger gesê.
Hy is op 24 Oktober in die hospitaal opgeneem en ’n week later was hy met longkanker gediagnoseer. Die kanker het vinnig na sy brein, lewer en niere versprei.
Odendaal het Kersfees by sy huis op ’n plaas in die Delmas-omgewing, omring deur sy familie en geliefdes, bestee.
Kort ná Kersfees was hy egter weer in die hospitaal opgeneem en het hy vroegoggend op 31 Desember gesterf.
Odendaal was ’n geliefde inwoner van Delmas.
As prokureur was die howe en strafsake sy forte, maar volgens Kruger was Odendaal daar vir almal.
“Hy het nooit vir iemand nee gesê nie, nooit iemand geweier nie, hy het ’n hart vir almal gehad,” het Kruger verder gesê.
Odendaal was op 13 Maart 1990 as prokureur toegelaat en het in dieselfde jaar op Delmas gevestig waar hy saam met sy swaer, Izak Geldenhuys, ’n regspraktyk bedryf het. Geldenhuys het later na Pretoria verhuis.
“Op 14 Desember 1994 het ek en Johan ’n venootskapooreenkoms gesluit. Vanaf 1 Januarie 1995 was die regspraktyk op Delmas as Odendaal en Kruger Prokureurs bekend,” het Kruger aan Streeknuus meegedeel.
“Ons was dus vir 28 jaar vennote.”
Volgens Kruger was hulle ook hegte vriende.
“Ons kinders het saam groot geword, ons het saam gejag. Ons het mekaar élke dag gesien. Ons het mekaar baie goed geken en in 28 jaar het ons nie een dag baklei of gestry nie.
“Ter ere van die nagedagtenis aan my oud-kollega, vriend en geliefde inwoner van Delmas, sal die Odendaal in Odendaal en Kruger Prokureurs behoue bly. Daar bestaan by my geen behoefte om sy naam van die deur af te haal nie,” het Kruger bygevoeg.
Odendaal was ’n betrokke lid van die gemeenskap op Delmas. Self ’n boer in murg en been was hy ook baie nou in die boerderygemeenskap betrokke.
Hy het deur die jare ook op die beheerliggame van Heidi Kleuterskool, Laerskool Delmas en Hoërskool Delmas gedien.
Hy was verder ook aktief betrokke by die destydse Rapportryersvereniging.
Odendaal se gedenkdiens het op 6 Januarie vanuit die NG Moedergemeente op Delmas plaasgevind en was deur ds Izak du Toit waargeneem.
Op die begrafnisbrief beskryf sy drie dogters hom as die beste dogtertjie-pappa.
“Om jou dogters te kan wees, is ons grootste trots. Ons sal jou groot gees, geite en geselsies ongelooflik mis en vir altyd koester. Ons is oneindig lief vir jou. Jy is, en sal vir altyd, ons absolute hero wees.”
Odendaal laat sy vrou Charlotte en drie dogters, Inge, Martine en Daniela agter.



