Local newsMunicipalStreeknuus

Sundra- en Eloff -inwoners is moedeloos gesukkel sonder water

“Water word vanaf Rand Water na Modderbee gestuur waarna dit na Sundra gepomp moet word. Dit blyk verder dat die verskillende gebiede met verskillende tye van beurtkrag die stelsel ’n besliste knou gee.”

Inwoners van Sundra, Rietkol en Eloff is rooi onder die kraag, want hulle is meestal, soos in die onlangse verlede, sonder water. Verskonings en planne vir die watertekort blyk daar baie te wees, maar oplossings min.

Victor Khanye plaaslike munisipaliteit se waterbekers vul tenks op strategiese plekke in die omgewing en afgeleë gebiede word glo ook deur die munisipalitiet van water voorsien.

Inwoners met boorgate stel water vir gebruik vry en aan die senior burgers word ook water in kanne voorsien.

Petro Mosterd, ’n inwoner van Sundra is semi-bedleênd. Met ’n paar mediese toestande waarvan een velkanker is, bring die watertekort groot moedeloosheid.

“Ek moet, ten spyte van my swakheid, soggens roer om gou te was en water te tap. My velkanker vereis uiterste higiëne. Ek is absoluut moeg en moedeloos gesukkel om met ’n klien bietjie water per dag te moet klaarkom,” het Mosterd gesê.

Menige en soortgelyke klagtes het Streeknuus bereik. Streeknuus het probeer uitvind waarom die inwoners dan weer, soos in die onlangse verlede, met min of geen water moet klaarkom.

Streeknuus het ook by Pieter Senekal, Vryheidsfront Plus-raadslid by die munisipaliteit navraag gedoen.

Senekal reken dat die huidige watertekort in die Sundra-omgewing toegeskryf kan word aan verouderde pompe, pype en toerusting.

“Daar is net nie genoeg geld om dit te vervang nie. Pype wat bars of breek word egter wel binne ’n dag of drie herstel,” het Senekal gesê.


LEES OOK: Brave souls take on 5km at river park in Standerton


Senekal, self ’n inwoner van Sundra, is van mening dat die Sundra reservoir ook nie meer van genoeg water vanaf Rand Water voorsien word nie.

“Daar word nie genoeg water na Modderbee gepomp om die reservoir 24/7 vol te hou nie.”

Senekal meen die voortdurende beurtkrag het ook ’n besliste invloed op watervoorsiening na die gemeenskap.

“Water word van Rand Water na Modderbee gestuur waarna dit na Sundra gepomp moet word. Dit blyk verder dat die verskillende gebiede met verskillende tye van beurtkrag die stelsel ’n besliste knou gee.”

Senekal het Streeknuus verder meegedeel dat hy daaraan twyfel of Rand Water nog voldoende kapasiteit het om genoeg water vir die groeiende populasie te voorsien.

Ook Diane Bath, Demokratiese Alliansie-raadslid van VKLM voel die langdurige watertekort wat tans in dié gebiede ondervind word hoofsaaklik aan beurtkrag te wyte is.

“Dit is ’n pompstasie wat die gebiede van water voorsien. Sodra daar beurtkrag by Modderbee is, kan water nie na die Sundra-reservoir gepomp word nie. Wanneer daar beurtkrag op Sundra is, kan daar ook nie water gepomp word nie,” het Bath gesê.

“Die reservoir moet nagenoeg 70% vol wees voor water vrygestel kan word. Eers daarna word die pomp aangeskakel en word water na die Sundra-toring gepomp en verder na die Eloff-toring.

“Water word met behulp van gravitasie na dele van Rietkol asook die Mimosa informele nedersetting se JoJo-tenks gevoer.”


LEES OOK: Grootste Halcat Seilklub in omgewing bied regatta aan


Inwoners wat aan die anderkant van spoor woon trek egter aan die kortste end, omdat hulle ligging heelwat hoër is. Volgens Bath sal ’n kragopwekker by Modderbee deel van die antwoord tot die waterkrisis wees. Die kostes om die verouderde pyplynstelsel te vervang, sal volgens Bath sowat R100m beloop.

“Ons het intussen oorweeg om met Ekurhuleni te praat om uit te vind of koppeling aan die Persida reservoir moontlik is.”

Inwoners glo egter min hiervan en hou vol dat stories opgemaak word.

“Ons is meestal sonder water, ongeag van wie se slimpraatjies ook al. Al wat ons vra is die nakoming van ’n basiese en noodsaaklike mensereg, die reg van toegang tot water,” het een so ’n inwoner van Sundra, wie verkies om anoniem te bly, met Streeknuus meegedeel.

“Planne op papier en Whatsapp-boodskappies sorg nie dat ek kan kook, wasgoed was, myself en my kinders bad en my troeteldiere water gee nie.

“Die koste vir die aankoop van drinkwater is astronomies en geen vergoeding word hiervoor deur een van die planmakers gebied nie,” het sy verder gesê.

“Die probleem het ook nie drie maande terug ontstaan nie, dit kom al oor baie jare.”

Streeknuus het by munisipaliteit aangeklop om meer inligting rakende die waterkrisis en beplande oplossing daarvoor te verkry. Teen druktyd was daar egter nog geen terugvoer ontvang nie.

Kort voor druktyd het daar egter ’n liggie aan die einde van die baie donker tonnel opgekom. ’n Barmhartige Samaritaan, Jaco Potgieter van Techno Power, het op 7 Februarie die kragopwekker by die Sundra-reservoir herstel.

“Dit was soos musiek in my ore toe ek die kragopwekker hoor aangaan. Dit behoort tydelike verligting te bring,” het Bath gesê.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button