Standerton se asgate is op AfriForum se radar
Bekker het bygevoeg dat die terreinbestuur, net soos ander basiese dienste nagelaat word.
Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum Mpumalanga Hoëveldstreek, het die afgelope week kommentaar gelewer oor die toestand van die vullisterrein op Standerton.
“Ons is bewus van die kwessies by die asgate en het reeds met die 2023-oudit begin,” het Bekker gesê.
“Dit stel ons teleur dat die Lekwa Munisipaliteit die terrein so swak bestuur.
“Inkomste kan deur herwinning en ander programme verkry word.”
Bekker het bygevoeg dat die terreinbestuur, net soos ander basiese dienste, nagelaat word.
Die Standerton Advertiser het in ’n vorige berig aangedui dat dié burgerregteorganisasie genader is.
’n Artikel verlede jaar het die situasie toegelig waar klem gelê is op die vullis wat van Morgenzon aangery word na die asgate op die Secunda-pad.
Linda Dlamini, voormalige burgemeester, het ’n verslag die sluiting van die vullisterrein op die buurdorp aan die raad voorgelê.
Volgens die November 2016-verslag, het die Departement van Omgewingsake dit as een van 25 terreine in Mpumalanga geïdentifiseer wat moes sluit.
Die Standerton Advertiser het verlede jaar die vullisterrein op Standerton besoek en tevergeefs probeer uitvind op watter dae die vullis van Morgenzon opdaag.
Kostegewys is dit brandstof of diesel vir die vragmotors om die 50.2km op die R39 te ry.
Terreine moet voorts aan omgewingstandaarde voldoen, soos vervat in wetgewing wat die National Environmental Management: Waste Act 59 van 2008 insluit.
Die koerant het reeds in Julie verlede jaar in verbinding met Thando Nkosi, mediabeampte by Lekwa, getree om navraag te doen oor ’n nuwe vullisterrein op Morgenzon.
’n Dawerende stilte het gevolg en lesers kon dus nie op hoogte gebring word van die kommentaar nie.
’n WhatsApp boodskap is op 2 Februarie aan Nkosi gestuur om uit te vind hoeveel vragmotors in werkende orde is.
Nkosi het dieselfde dag aangedui dat slegs een munisipale vragmotor in werkende orde is.




