Eugene Jacobs (46) se lewe het in Desember 2021 onherroeplik verander. Jacobs het agterkom dat hy soms sukkel om te sluk. Dit het geleidelik vererger.
Hy het eers nie veel ag daarop geslaan nie, maar later besluit om ’n chirurg te gaan sien.
Jacobs, sy vrou Lenie en hul drie seuns, die tweeling Herman en Franco (12) en Eduard (7), is deur ’n rowwe tyd in 2022.
Eugene se ma, Gerda, is in Februarie dood kort nadat sy uit Amerika in Suid-Afrika aangekom het.
“Eugene het sy ma in 2020 laas gesien toe sy in Amerika getrou het,” het Lenie vertel.
“Hy het baie verlang in die twee jaar wat sy nie kon terugkeer vanaf Amerika nie weens die Covid-19-pandemie.
“Toe sy in Februarie verlede jaar teruggekom het, het ons haar op die lughawe gaan groet.
“Ons het lekker gekuier. Drie ure later het ons ’n oproep gekry dat my skoonma ’n hartaanval gehad het en dood is.”
Boonop is Lenie se pa in April, ook verlede jaar, dood.
“Sy gesondheid het begin agteruit gaan nadat hy die Covid-19 inenting gekry het,” het Lenie gesê.
Eugene het in Mei verlede jaar ’n chirurg gaan sien wat ’n biopsie gedoen het en bevind het dat hy slukdermkanker het.
’n CT-skandering, het getoon dat die gewas teen Jacobs se aorta vasgegroei het en dat hulle dit dus nie kan opereer nie.
Die onkoloog wou dadelik met chemo-behandeling begin en het gesê die kans op sukses is 50%.
“Hy het ons aangekyk asof Eugene reeds dood is,” het Lenie vertel.
“Ek het vir hom gesê ons gaan eers daaroor bid,” het Eugene vertel.
“Ons het vir drie weke in die Kalahari gaan vakansie hou en gerus.”
Eugene het beter begin voel in die Kalahari, weg van elke dag se werk en spanning.
“Ons albei het duidelik ervaar die Here nie wil hê dat Eugene vir chemo-behandeling moet gaan nie,” het Lenie gesê.
Die egpaar het besluit dat dit beter vir Eugene sal wees om vir alternatiewe behandeling vir sy kanker te gaan en nie chemo-behandeling of bestraling nie.
“Dit is ’n uitdaging om alternatiewe behandeling in Suid-Afrika te kry, want die mediese fonde betaal nie daarvoor nie,” het Lenie gesê.
: Malita Aftreeoord-inwoners vier Valentynsdag
“Alternatiewe behandeling is ook nie algemeen bekend en beskikbaar in ons land soos wat dit in byvoorbeeld Amerika is nie.”
Eugene moes ’n stent in sy slukderm gekry het sodat hy kan eet.
Die gastroënteroloog het vir Eugene gesê die stent kom gewoonlik nooit uit by slukdermkankerlyers nie omdat hulle voor dit doodgaan.
“Hy het vir my gesê my lewensverwagting is so vyf maande,” het Eugene gesê.
“Ek glo egter dat kanker nie ’n doodsvonnis is nie.
“Kanker is die liggaam se manier om te sê stop waarmee jy besig is en verander jou lewenswyse.”
: The Delmas Police warns the public about fake payment swindles
Een aand het Eugene bloed opgegooi en sy liggaam was baie moeg. Hy het gebid en vir die Here gevra vir ’n wonderwerk.
Hy het duidelik ervaar hoe die Here vir hom gesê het dit is nog nie sy tyd nie.
“Ek het bonatuurlike vrede en rustigheid ervaar. Die kanker-industrie word gedryf deur vrees en elke gelowige weet, vrees kom nie van God af nie.”
Eugene ontvang tans alternatiewe behandeling deur middel van Zoom-sessies by dr Thomas Lodi, ’n Amerikaner.
Dr. Francois van Wyk van Harrismith behartig saam met dr. Lodi Eugene se behandeling.
Eugene haal dr. Lodi se woorde aan: “Cancer is very smart. We cannot outsmart it, but we can exhaust it.”
“Dit is hoekom die behandeling wat ons tans met Eugene doen, die kanker teiken vanuit verskillende hoeke,” het Lenie gesê.
Dié behandeling behels hoë dosisse van vitamienes, natuurlike produkte en ander medikasie wat baie duur is.
Die egpaar moet vir alles self betaal omdat die mediese fonds dit nie dek nie.
Hulle moet ook gereeld Gauteng toe ry waar Eugene binneaarse behandeling kry om sy imuunstelsel te versterk.
Dit gaan die egpaar sowat R500 000 kos aan behandeling tot die einde van 2023.
’n Vriendin van die egpaar, Petro Boucher, reël ’n fees wat op 27 April by Rustic Ranch op Trichardt plaasvind om geld in te samel.
Lenie het vir lank as ’n fisioterapeut op Secunda gewerk terwyl Eugene sy eie onderneming gehad het, maar deesdae werk net Lenie van die huis af op Carolina om die pot aan die kook te hou.
Sy werk vir ’n onderneming wat opleiding aan fisioterapeute verskaf.
As jy dié gesin wil ondersteun of ’n bydrae wil maak, besoek die webwerf, bit.ly/3loV6Ab en volg die stappe.




