Karien Oberholzer (23) laat nie toe dat haar gestremdheid haar onderkry nie.
Oberholzer se ouma, Lettie Oberholzer by wie sy grootgeword het, het gesê Karien was bykans een jaar oud toe hulle agtergekom het sy is doof. Sy is later met Waardenburg-sindroom gediagnoseer.
Kenmerkende eienskappe van dié sindroom is doofheid, potblou oë of oë wat twee verskillende kleure is, donker hare en heel dikwels ’n wit kol in die donker hare.
Waardenburg-sindroom is ’n ginetiese siekte en Karien se pa, wat nie betrokke is in haar lewe nie, asook haar halfbroer ly ook aan dié sindroom.
Haar ma was ’n enkelouer en moes voltyds werk, dus het Karien by haar ouma en oupa grootgeword.
Sy was vir jare ’n leerder aan die Marietjie Skool vir Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes, voordat sy in 2014 na die St Vincent School for the Deaf begin gaan het.
Haar ouma en oupa het in dié tyd spesiaal na Johannesburg verhuis sodat Karien naby aan die skool kon wees.
Sy het vir drie jaar by St Vincent skoolgegaan en uitgeblink op verskeie vlakke op die sportveld.
Karien het, toe sy 10 jaar oud was, karate begin doen en tot by haar tweede geel gordel gevorder voordat sy opgehou het. Sy het ook presteer in swem, netbal en pyl en boogskiet.
Karien het, toe sy nog by die Marietjie Skool was, vir die Mpumalanga-span geswem en netbal gespeel.
Sy het in die kort tydperk wat sy in die St Vincent skool was, altesaam 36 medaljes vir swem ingepalm en al twee keer die Midmar Myl Ope Water swemgala deelgeneem.
Sy het ook haar Gauteng kleure in swem, netbal, vlugbal en pyl en boogskiet behaal. Sy het jaarliks goue medaljes gekry vir swem en as haar tye beter was, sou sy vir Springbok-kleure kon kwalifiseer.
Karien is egter op 16-jarige ouderdom uit die skool omdat sy nie meer die geboelie van mede-leerders kon hanteer nie.
LEES OOK: Heavy rain forces residents to flee flooded shacks in eMbalenhle
Haar grootouers het toe besluit om met haar terug te trek na Secunda. Karien wil nou weer begin swem en wil graag werk as iemand haar ’n kans sou gee.
“Sy kan goed lippe lees in Afrikaans en sy kan Engels lees ook,” het Lettie gesê.
Intussen hou Karien haar besig deur kunswerke soos boompies vanuit draad, sjokolade vir spesiale geleenthede, muurbehangsels en kunsmatige blomme te maak wat sy op Facebook verkoop.
Haar ouma het haar ook al na markte op Secunda geneem waar sy haar kunswerke verkoop het. Sy het haar talent vir kuns by haar ouma, wat ook graag muurbehangsels, matte en ander kunswerke maak, gekry.
“Karien is baie intelligent en kyk net een keer na iets op ’n foto dan sê sy vir my: ‘Ouma ek gaan dit maak’ en dan maak sy dit,” het Lettie gesê.
Belangstellendes wat van Karien se kunsprodukte wil bestel, of as enigiemand bereid is om haar ’n werksgeleentheid aan te bied, kan vir Lettie by 061 258 8784 skakel.




