Local news

Tuisteskepper van Standerton betree die arbeidsmark

“Die geboorte van my kinders was definitief die drie wonderlikste oomblikke in my lewe.”

’n Egpaar se besluit om die grootmaak van hul kinders voorrang te laat geniet, het hulle ma vir geruime tyd uit die arbeidsmark gehou.

“Ek is nie vir ’n oomblik spyt nie,” het Marié Beukes gesê.

“Dit was vir my en Harry ’n prioriteit.”

Sy is vanaf KwaZoeloe-Natal en het saam met haar mense in 1998 op Standerton aangekom.

Sy het haar matriekjaar by Hoërskool Standerton voltooi. Hoewel haar uitslae sodanig was dat universiteit gewink het, het die finansiële implikasies die botoon gevoer.

Marié het daaraan gedink om ’n dokter te word en het ook veeartsenykunde oorweeg. Na skool het die huweliksklokkies vir haar en Harry gelui.

Dominee André Ströh, voormalige predikant by die NG Kerk se Wes-gemeente, het die bevestiging gedoen.

Die Beukese se drie kinders is almal ses jaar uitmekaar, Lynn-Marié (19), Harry (13) en Ignatius (7).

“Die geboorte van my kinders was definitief die drie wonderlikste oomblikke in my lewe.”

Harry junior en Ignatius gaan albei skool by Laerskool Standerton.

“Ek was vir min of meer 18 jaar ’n huisvrou,” het Marié gesê.

“Dit was ’n aanpassing om te begin werk, maar ek geniet dit. Ek het in nege maande baie geleer.”

Sy is ’n diereliefhebber waarvan die honde en katte tuis getuig en dan maak sy ook drie babakatjies groot.

“Diere is totaal afhanklik van ons.”

Toe hulle kat weggeraak het, het hulle een Sondagmiddag rondgery en die diertjie na 79 dae, sy het boekgehou, uiteindelik in die oop erf by die Jerrie van Vuuren-gebou opgespoor.

Die rede vir die verdwyning was dat hulle van een huis na ’n ander getrek het.

“Ons hele gesin was in trane,” het sy onthou.


LEES OOK: Oud-inwoner van Secunda benodig geld vir kankerbehandeling


Op ’n tydstip toe hulle op ’n plaas gebly het, het sy wilde diere ook grootgemaak. ’n Swartwildebees, blesbok en springbok is ook versorg.

Nou lê sy in die wintertyd aan na die tabelle van die Edelvalk-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging op Evert Genis se skietbaan.

“Dit is nie ’n moeilike sport nie en die tak is gesellig.”

Die gesin geniet dit saam. Ook hou Marié van oefen in die gimnasium en beskryf die energie wat ’n mens daarna het, as die doepa vir ’n goeie nagrus.

Sy en Lynn-Marié stap ook gereeld. ’n Bestuurslisensie wat menige kandidaat in koue sweet laat uitslaan is op 19-jarige ouderdom, het sy met die eerste probeerslag, gekry.

Sy sal nie twee keer dink oor ’n seevakansie nie en as daar iets is wat sy nog graag wil doen, is dit om alleen by die see vakansie te gaan hou.

Dié veelsydige vrou sal dan ‘down memory lane’ gaan en besluit oor die volgende fase in haar lewe.

“Ek wil nog iets beter daarvan maak,” het sy mee afgesluit.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button