Wild Bunch Revolution Chapter maak kinderharte bly
Die Wild Bunch Revolution Chapter bedank hul borge en ondersteuners en gee aan God al die eer.
Die Wild Bunch motorfietsklub se Revolution Chapter van Delmas het op 12 Februarie hul harte oopgemaak vir die inwoners van die Mothers Nest, ’n plek van veiligheid vir kinders op Brakpan.
Met eetgoed en skenkings het die groep op hul ysterperde op 12 Februarie gaan besoek aflê waar daar saam met die inwoners geëet, gespeel en gelag is.
Volgens Monica Bauer, skakelbeampte van die Wild Bunch Revolution Chapter, word daar wonderlike werk by Mothers Nest gedoen.
“Daar is tans 17 kinders in hul sorg en hulle is totaal afhanklik van donasies. Tannie Emma, ’n vrou met ’n hart van goud, doen uitstekende werk,” het Bauer gesê.
Volgens Bauer het tannie Emma, of beter bekend as ‘ouma Emma’ ’n hart van goud en straal daar liefde uit haar oë.
“Skenkings is nie altyd volop nie, maar ouma Emma se geloof is sterk. Sy glo dat God altyd sorg en wat ook al tekort is, God sal voorsien.”
Die Wild Bunch het hul borge en ondersteuners wat tot die sukses van die dag bygedra het, bedank.
“Dankie ook aan Die Wild Bunch Mother Chapter wat die dag met ons gedeel het.”
“Groot dank aan elke persoon wat teenwoordig was, ons president Dewald de Kock, vir die leiding deur die spesiale dag en aan God al die eer. Dit is immers Hy wat deur ons werk om dié geleenthede moontlik te maak.”






