Die plaasbasaar kuier- en proefees op Delmas sorg vir hope pret
Daar was met oorgawe feesgevier en besoekers kon weglê aan heerlike kerrie en rys, basaarpoeding, swarma’s, worsbroodjies, pannekoek, koffie en tee en daar was selfs ’n biertuin met ’n koue biertjie vir die mans en ’n glasie wyn vir die dames.
Die NG Kerk op Delmas Moedergemeente het die betekenis van ‘n egte plaasbasaar behoorlik die lig laat sien tydens vanjaar se kuier- en proefees.
Daar was stalletjies, eetgoed en vermaak te kies en te keur tydens dié plaasbasaar wat op 4 Maart gehou is.
Laerskool Eloff, Laerskool Delmas, Dalimfundo Daycare en Heidi Kleuterskool se pom pom-groepies het vir groot opwinding gesorg.

Ouers en grootouers het trots toegekyk hoe hul kleingoed die besoekers vermaak. Die poppekasvertoning met Dyntjie en Vollie het oud en jonk aan hul voete gehad.
Die meganiese bul het ook groot aftrek gekry en menige deelnemers het, stert tussen die bene, die stof gebyt.
Die mallemeule, springkasteel en baie ander bedrywighede het die kleingoed besig gehou terwyl ouers tussen die verskeie stalletjies kon kies en keur.

Daar was met oorgawe fees gevier en besoekers kon weglê aan heerlike kerrie en rys, basaarpoeding, swarma’s, worsbroodjies, pannekoek, koffie en tee en daar was selfs ‘n biertuin vir ‘n koue biertjie vir die mans en ‘n glasie wyn vir die vroue.
Die stalletjies met tuisgemaakte boerewors, gemaalde vleis, hoenders, plaasvars groente en heerlike tuisgebak het die koelbokse en mandjies laat oorloop.
Verskeie ander stalletjies het besoekers vir ure besig gehou en tussendeur was vermaak in die vorm van vrolike musiek aan die orde van die dag.









