Local newsStreeknuus

Sundra-inwoner se Maplotter Blues digbundel sien die lig

Maplotter Blues is uit los gedagtes gebore, denke-in-die-oomblik wat op stukkies papier neer geskryf is soms erens vergete of verlore geraak het.

Sy glimlag is beskeie, sy woorde min, maar agter sy grysblou oë sit die siel van ‘n diep denker.

Dit is Sarel van Zyl, boorling van Sundra, wie se digbundel, Maplotter Blues in Januarie die lig gesien het.
Van Zyl woon sedert driejarige ouderdom op Sundra.

Hy het sy laerskoolloopbaan by Laerskool Sundra voltooi en sy matriek in 1991 by Hoërskool Sundra voltooi.

Vandag bestuur Van Zyl en sy ma, Johanna van Zyl, hul besigheid, Magmos Motors wat uit ‘n vulstasie, drankwinkel en hardewarewinkel bestaan.

Van Zyl se ma moes noodgedwonge die bestuur van Magmos oorneem toe sy pa 18 jaar gelede op die perseel deur rowers vermoor is.


LEES OOK: Support the local female judiciary’s book drive


Van Zyl het na matriek ‘n BCom-graad in bemarking aan die Universiteit van Pretoria behaal waarna hy ook ‘n nagraadse kursus in mediabestuur voltooi het.

Volgens Van Zyl het hy nie juis op skool geskryf nie, maar het baie gelees. Op ‘n vraag aan Van Zyl oor wanneer en wat hom genoop het om te dig, was die antwoord kort en bondig, “Seker maar die liefde, my eerste ‘girlfriend’.

“Sy het baie van gedigte gehou. Dit was seker om haar te beïndruk.”

Maplotter Blues is uit los gedagtes gebore, denke-in-die-oomblik wat op stukkies papier neergeskryf is soms erens vergete of verlore geraak het.

Tussendeur was die gediggies op papiertjies vanuit laaie, sakke en oraloor op die rekenaar neergepen, maar Van Zyl sê hy het nooit regtig klaargekry nie.


LEES OOK: Third attempt to topple Govan Mbeki Municipality’s speaker fails


“Toe kom Covid en die inperkingstyd. Al ons winkels was toe, maar die vulstasie moes aangaan. Ek het baie vrye tyd op hande gehad en het weer begin om my gedigte te tik.”

Van Zyl het ook gesê dat baie van sy gedigte oor die jare weggeraak het, juis omdat dit sommer so soos die gedagtes gekom het op enige iets wat naby was, neergeskryf was.

“Ek het op die internet na publiseerders gaan soek en op Turksvy Publikasies afgekom. Daar was so bietjie heen-en-weer geskaaf, maar ten einde laaste was my boek gedruk en uitgegee.”

Op die vraag oor wat van hier af, gaan hy aanhou gedigte skryf, was die beskeie antwoord ook kort en bondig,

“Ek weet nie, maar ja ek sal seker.”




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button