Die Witkruis Monument se ‘Ystervrou’ sterf
Die Witkruis Monument aan die voet van die Ysterberg in Polokwane was Cross Fourie se passie. ’n Monument ter nagedagtenis aan dié wat hul lewe aan die hand van plaasmoordenaars verloor het.
Lita Cross Fourie (64), bekend as die stigterslid van die Witkruis Monument vir plaasmoorde, het na ’n kort siekbed op 3 Maart in die Lethaba Hospitaal op Tzaneen gesterf.
Sy was tot onlangs nog ’n inwoner van Eloff. Die Witkruis Monument aan die voet van die Ysterberg in Polokwane was Cross Fourie se passie.
Dit is ’n monument ter nagedagtenis aan dié wat hul lewe aan die hand van plaasmoordenaars verloor het. Cross Fourie het die monument 2004 begin.
Die moorde van haar eie ouers, John (78) en Bina (76) Cross op 16 April 2000 op hul plaas in die Gravelotte-omgewing, het na alle waarskynlikheid vir Cross Fourie tot die stigting van die monument genoop.
LEES OOK: Cops warn against buying goods off social media
Sreeknuus het in 2022 ’n besoek aan Cross Fourie en haar jarelange lewensmaat se kleinhoewe op Eloff gebring.
Sy het voorgekom as ’n sterk vrou en besliste leier, vandaar die naam van ‘Ystervrou’.
Tydens die onderhoud was die seer was tog soms duidelik te sien in haar oë, veral wanneer sy oor die dood van haar ouers gepraat het.
Cross Fourie het Streeknuus meegedeel dat haar ouers die Sondag van hulle dood soos gewoonlik na die kerk op Letsitele gegaan het.
“Dit was ook die laaste keer dat ek hulle lewendig gesien het.”
Met haar ouers se tuiskoms na kerk het die twee moordenaars hulle ingewag. Haar pa is vier keer geskiet en haar ma drie keer, maar nie voordat hulle gewelddadig gemartel was nie.
“My ouers se moord het my lewe totaal verander, nooit ooit kan ek weer dieselfde wees nie. My ouers se moordenaars het my lewe vernietig en so ook dié van my familie.”
Sedert die stigting van die monument het Cross Fourie jaarliks ’n diens by die monument gehou waartydens wit kruise vir die slagoffers van plaasmoorde tydens die voorafgaande jaar geplant is.
Cross Fourie het egter nie net kruise ter herinnering aan die slagoffers van plaasmoorde geplant nie. Sy het kilometers oor die breedte en wydte van Suid-Afrika gery om met begrip en liefde die families van slagoffers by te staan.
LEES OOK: Foundation in eMbalenhle wants to help others fights depression and suicide
Ook in eie geledere het sy haar simpatie en begrip met die ma van die vermoorde Chantel Kershaw, Grieta Spiers, gedeel.
Kershaw is op 30 September 2020 verwurg en dood agtergelaat in die motorhuis op hul kleinhoewe op Rietkol. Spiers was ook tydens die aanval vasgebind en aangerand (Streeknuus, 9 Oktober 2020).
Op 13 Oktober, 2020 tydens die borgaansoeke van Kershaw se vermeende moordenaars in die Streekhof op Delmas, het Cross Fourie in samewerking met die Sundra Bulldogs Buurtwag ’n vreedsame optog vanaf Sundra na Delmas gereël (Streeknuus, 23 Oktober 2020).
Gedurende September 2022 het Streeknuus die kruise-plant geleentheid aan die voet van die Ysterberg bygewoon.
LEES OOK: Mother and son appear in Secunda Court for allegedly giving a gun to suspected drug dealer
Tydens 2022 se verrigtinge was daar ook verskeie kruise geplant vir slagoffers vanuit die Delmas en omliggende omgewing. ’n Gedenkdiens vir Cross Fourie was op 11 Maart in die Vleissentraalsaal in Polokwane gehou.
Volgens inligting sal haar as op die plek wat sy die liefste gehad het, die Witkruis Monument, gestrooi word – tussen die wit kruise wat elk ’n naam en ’n geskiedenis van seer het.
In Cross Fourie se eie woorde, “Ek wil eendag iets agterlaat, iets beteken vir die mense wat na ’n plaasmoord agterbly.
“Die Witkruis Monument het my passie geword. Daar tussen die kruise besef ek wat dit beteken om elke jaar vir iemand wat tydens ’n plaasaanval oorlede is, ’n kruis te plant. Elke kruis op die Ysterberg vertel ’n verhaal.”




