Pampoengroeier groei weer groot
Die groot-groei pampoenkampioen, Wykus Lampbrecht, het van kindsbeen gedroom om in die 2 000 pond (907kg) klub te wees en vanjaar is hy heelwat nader aan sy droom met sy liewe Liesbet wat die skaal op 890kg laat kantel het.
Die groot-groei pampoenkampioen, Wykus Lampbrecht, het van kindsbeen gedroom om in die 2 000 pond (907kg) klub te wees en vanjaar is hy heelwat nader aan sy droom met sy liewe Liesbet wat die skaal op 890kg laat kantel het.
Wie, wat en waaroor gaan die Goliat van Gat-pampoenkompetisie?
Die Cullinan Boere Unie, geaffillieer deur TLU Suid-Afrika, se Goliat van Gat-pampoenkompetisie is vir die eerste keer in 2004 gehou as ’n fondsinsamelingsprojek.
Daarna het dit ’n jaarlikse instelling geraak onder Suid-Afrikaanse pampoengroei liefhebbers. Dié instansie is ook net een van twee in Suid-Afrika wat geakkrediteer word met The Great Pumpkin Commonwealth (GPC) wat beteken dat deelnemers se uitslae aangeteken en erken word wêreldwyd.
Die erkenning is prysloos want dit bied deelenemers ’n kans pampoenpitte te koop en verkoop en ook in ag geneem te word vir wêreld rekordtitels.
Wie het wat gewen?
Lambrecht het weer eens loshande gewen met Liesbet van 890kg. Daarvoor is hy met R15 000 beloon, asook ’n bykomende R3 000 op ’n verbetering van die vorige jaar.
In tweede plek was Jaco Cornelius met ’n kneuwel van 340kg en prysgeld van R8 000. Laastens was Dirk Smal met ’n pampoen 309kg. Hy het weggestap met R5 000 in sy sak.
Wat kort ‘n pampoen behalwe ‘n stukkende skoen?
Lambrecht sê die groot geheim tot ’n groot vrug is baie water en sonlig.
As ’n pampoenplantjie nog ’n saailing is, is dit nodig om dit met stikstof en magnesium te voed om dit ’n hupstoot in die regte rigting te gee. In die ‘tiener’-stadium is fosfate belangrik om blomme te maak wat dan gebruik word vir bevrugting.
Sodra die pampoen begin groei, is kalsium, kalium en magnesium asook mikro-elemente, voedingstowwe, mikrobe en gesonde bakterie nodig om die plant gesond te hou en so groot te kry.
“Onthou, sonder blare is daar geen blomme nie!”
Lambrecht speel ook musiek vir sy pampoene en maak geselsies met hulle.
“Daar is glo ’n denke dat sodra die voëls in die oggend begin tjirp, maak dit die plante wakker. Dan gaan die stimata oop en dit is wanneer die plant al die voedingswaardes opslurp.”
Lambrecht maak ook elke aand sy pampoene toe met ‘n kombers om lekker snoesig te slaap.
Hoekom Liesbet?
Dié 890kg pampoen is ter nagedagtenis aan Liesbet Kukulu Zulu, sê Lambrecht.
“Die warwoel van emosies lê nog baie hoog. As ek net te diep asemhaal, moet ek keer of die trane wil-wil by die vensters van my siel uitvloei.”
Liesbet was Lambrecht se huishulp toe hy ’n kind was. Sy het hom op die ouderdom van drie gehelp om sy eerste spinasieplantjie te plant wat hy by sy Ouma Lina gekry het.
“Ek onthou dit nog soos gister hoe ek kop onderstebo bly was dat sy vir my die spinasieplantjie uitgeplant en gewater het. Dis net daar waar die liefde vir groentegroei wortel geskiet het.
“Daar in die voortuin, agterop Liesbet se rug.”
Later het die Lambrechts verhuis en Liesbet het saamgegaan. Dit is daar, onder haar wasgoedlyn waar hy sy eerste groentetuin begin het. Wortels, uie, beet, boontjies, pampoen en spinasie.
“Gesondheid uit die grond uit.”
Wie is Lambrecht en hoekom pampoene?
Lambrecht, ’n boorling van Meyerton, het van kleintyd ’n kompeteerende gees gekoester. Afgesien van pampoen groei, het Lambrecht sy nasionale kleure in hengel verwerf.
Sy oom het hom agt jaar gelede aan die groei van reuse pampoene voorgestel en die gogga het gebyt. Toe hy die eerste jaar sy pitte baie ywerig geplant en water en liefde gegee het, het niks gebeur nie.
Maar aanhouer wen en die tweede jaar het hy ’n pampoen van 19kg opgelewer.
“Ek was meer bly oor daai pampoen as oor die ene nou,” sê Lambrecht.
Daarna het sy pampoene net vergroot, van 219kg tot 264kg, 356kg, 790kg en toe 846kg. Die ‘2000-ponder’ is nou om die draai vir Lambrecht. Daarmee saam gaan faam en word hy beloon met ’n baie mooi baadjie.
Wyse wenke
Lambrecht se beste raad vir ’n groot pampoen is om ’n verhouding op te bou met dit, want as “jy kyk na jou pampoen, gaan die pampoen verseker kyk na jou”.
https://www.citizen.co.za/ridge-times/312129/11-sn-community-pampoen-dl_photos/



