Local newsStreeknuus

Lykswa word ambulans vir siek bejaarde op Delmas

“Dit was ietwat van ’n skok om vir oom Rassie daar te sien lê, hy was wasbleek, sy oë was dof, hy was duidelik baie ongemaklik en hy was papnat gesweet.”

Rassie Erasmus is een van die min mense wat kan spog dat ’n lykswa hom lewend by sy siekbed gaan aflaai het.
Dié gebruik blyk egter niks nuuts op Delmas te wees nie.

’n Lykswa is op 19 Maart noodgedwonge as ambulans ingespan om dié opsigter van Malita Aftreeoord en ook lid van die AfriForum Valke Buurtwag op Delmas van die kerk af huis toe te vervoer.

Rassie is as een van die dorp aktiewe en gesonde senior burgers bekend en ten spyte van sy hoë ouderdom is hy ook nog betrokke by die AfriForum Buurtwag.

Hy is egter Sondag plat op sy rug, in ’n sweetbad by die ingang van ’n kerk op Delmas aangetref.

Wat begin het as ’n doodgewone Sondag kerkdiens by die NG Kerk Moedergemeente op Delmas, het gou verander in nood.

Die kerkdiens was in volle gang en die gemeente het opgestaan om te sing. Rassie was saam met sy vrou Johanna in die kerk.

Volgens Johanna het Rassie tydens lofsang teen haar aangeleun.

“Ek het gevoel hoe Rassie teen my sweet en het besef dat iets nie pluis is nie.”

Die volgende oomblik het Rassie glo gaan sit en met sy kop op sy arms geleun.

Na afloop van die kerkdiens het Rassie egter so siek geword dat dit nodig was om die eerstehulpspan van die Valke Buurtwag se bystand in te roep.

“Met my aankoms by die kerk het die kerk reeds verdaag, maar verskeie mense het nog rondgestaan om hulp te verleen.

“Dit was ietwat van ’n skok om vir oom Rassie daar te sien lê, hy was wasbleek, sy oë was dof, hy was duidelik baie ongemaklik en hy was papnat gesweet,” het die lid van die Valke se eerstehulpspan, gesê.

“Rassie se lewensnoodsaaklike tekens was egter heeltemal normaal. Sy bloeddruk, suurstofvlak en pols was in teen deel soos die van ’n jong en gesonde persoon.”

“Alle moontlikhede soos medikasie en pyn op die bors was uitgeskakel. By navraag aan Johanna het dit egter geblyk dat Rassie aan ernstige bewegingsiekte (vertigo) ly.”

Lidmate het glo tydens die diens na ’n video gekyk en daar word vermoed dat die bewegings daarin moontlik tot die aanval kon lei.

Dit was hier waar die uitdaging begin het. Rassie het na sowat ’n halfuur heelwat beter gevoel, maar sodra hy probeer het om regop te kom, het die naarheid en duiseligheid hom oorval en moes hy onmiddellik weer gaan lê het.

Verskeie voertuie en ’n rolstoel het gereed gestaan om Rassie na Malita, wat regoor die kerk geleë is te vervoer, maar Rassie het steeds plat op sy rug binne die kerk gelê.

’n Ambulans is ook oorweeg, maar Rassie was, behalwe vir die ernstige bewegingsiekte, andersins gesond.

“Los my net hier in die kerk, ek wil hier slaap totdat ek beter voel, julle kan my later kom haal,” het Rassie gesê.

’n Draagbaar was nie byderhand nie en na beraadslaging is daar besluit om vir Stoffel Swarts om hulp te vra.

Swarts is ’n lid van die Valke Buurtwag en ook die plaaslike begrafnisondernemer by D&M Begrafnisdienste.

Swarts se voertuig en ’n geskikte draagbaar sou die oplossing tot die probleem blyk te wees.

“Stoffel het ons al baie uitgehelp deur van ons siekes na die plaaslike Bernice Samuel Hospitaal te vervoer. Ons wagtyd vir ambulanse is soms tot drie ure en in sulke gevalle kon Stoffel se lykswa al baie uithelp,” het Carel Botha, voorsitter van die Buurtwag gesê.

Swarts was, vanweë sy werk, egter elders besig, maar na ’n rukkie het hy by die kerk opgedaag en kort voor lank is Rassie in die lykswa gelaai.

Sy vriende het so tong in die kies met hom geskerts dat hy een van min mense is wat met oop oë die lykswa binne gaan.

Met Rassie veilig op sy eie bed by die Malita Aftreeoord kon die koster die kerk se deure sluit, lidmate huis toe gaan en die begrafnisondernemer met sy dagtaak voortgaan.

“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe ons gemeenskap kan saamstaan en mekaar bystaan in tye van nood.

“Die lykswa moes weer dien as ambulans, maar Rassie kon by sy huis besorg word. Daarvoor bedank ons vir Stoffel.”

Teen druktyd was Rassie weer op die been en het hy elkeen wat hulp verleen het, bedank.




Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button