Sewejarige van Secunda sukkel steeds erg met gesondheid ná kankergewas
Ma benodig hulp omdat haar mediese fonds vir 2023 reeds byna uitgeput is.
Rohan Bos (7) moes vroeg in verlede jaar ’n breinoperasie ondergaan nadat ’n kankergewas aan die einde van 2021 in sy brein ontdek is.
Die pituïtêre klier in Rohan se brein is egter tydens dié operasie beskadig asook ander dele van sy brein wat die liggaam se temperatuur, emosies, eetlus en temperament beheer.
Na verskeie ander komplikasies en gesondheidsprobleme, is Rohan uiteindelik op 19 Februarie uit die hospitaal ontslaan, maar sy probleme het nie daar opgehou nie.
Hy het, net twee weke nadat hy ontslaan is, ’n terugslag beleef en rondgeval.
“Hy kon nie op sy voete staan nie,” het sy ma, Mary-Ann Bos, vertel.
Sy het hom eers na die plaaslike hospitaal gehaas, maar hy is later na ’n hospitaal in Gauteng oorgeplaas waar dokters agtergekom het dat Rohan se brein gekrimp het en dit het bloeding op die brein veroorsaak.
Hy het vermoedelik ’n beroerte gehad. Hoewel Rohan vanjaar na sy nuutste breinskandering kankervry verklaar is, sukkel hy tans met ’n vergrote lewer.
Hy is intussentyd met slaapapnee ook gediagnoseer en moet met ’n suurstofmasjien slaap en hy het geheueverlies.
Sy linkervoet is skeef, hy het nou ’n spastiese voet en kan nie normaal loop nie. Hy ly ook aan diabetes inspidis wat veroorsaak dat sy sodium-vlakke soms te laag of te hoog is. Hy het ook epileptiese aanvalle begin kry.
“Hy sit nog en praat dan gaan val sy kop net agteroor en sy oë dop om,” het Mary-Ann vertel.
Met al die gesondheidsuitdagings het Rohan ook verskriklik gewig begin optel en het gegaan van 18kg na 40kg.
Dit word veroorsaak deur die deel van sy brein wat gedurende die operasie beskadig is en staan bekend as hipotalamus vetsug.
“Dit vet word op sy organe gestoor, sy liggaam verbrand nie kalorieë soos normale mense se liggame nie. Dit maak nie saak wat hy eet of uitsny uit sy eetplan nie, hy tel net gewig op.”
Rohan mag nou net ’n sekere hoeveelheid koolhidrate daagliks eet en Mary-Ann bak weekliks vir hom ’n spesiale amandel-brood wat haar R120 kos.
Mary-Ann het kontak gemaak met ’n Amerikaanse vrou wie se seun met dieselfde probleem sit en sy het ook ’n Amerikaanse skrywer ontdek wat ’n boek oor dié toestand geskryf het.
LEES OOK: Govan Mbeki Municipality will fix landfill sites when they have money
“Ek het baie raad en handige wenke daar gekry,” het Mary-Ann vertel.
Rohan moet egter ongeveer ses verskillende spesialiste elke drie maande gaan sien en Mary-Ann se mediese fonds vir 2023 is reeds byna uitgeput.
Die mediese fondse betaal ook nie vir by-betalings of al die doktersafsprake nie of al die medikasie wat Rohan maandeliks nodig het nie.
“Sy nuwe eetplan is baie duur en kos my sowat R2 000 maandeliks,” het Mary-Ann gesê.
Sy wil graag Rohan se voet ook laat regmaak, maar dit moet deur ’n spesialis in Kaapstad gedoen word.
LEES OOK: VLU se Kaalspruit-takvoorsitter presteer by streekkonferensie op Secunda
“Dié spesialis is die enigste dokter in Suid-Afrika wat operasies uitvoer op spastisiteit en moontlik vir Rohan sal kan help.
“Rohan sal eers moet gaan vir ’n konsultasie en dan sal die spesialis kan sê of hy hom sal kan help.”
Dié konsultasie saam met vlugte, verbly en ’n voertuig, gaan Mary-Ann sowat R10 000 kos.
“Hy is baie depressief die laaste jaar omdat hy weet hy is anders.”
Rohan is tans in die Edu Detto Leersentrum en Mary-Ann probeer dat hy aan soveel aktiwiteite as moontlik deelneem om sy gemoedstoestand te lig.
Dié aktiwiteite sluit skaak en Taekwondo in en dan sien hy ook weekliks ’n arbeidsterapeut.
Belangstellendes wat Rohan wil help en finansieël wil ondersteun, kan Mary-Ann by 076 012 7514 skakel.



