Talentvolle jong danser van Bapsfontein weer na Engeland op pad
“Daar was maar baie duwweltjies in die pad en dit was verseker nie elke dag maklik nie, maar met ’n sterk ondersteuningsbasis kon ons die wa deur die drif trek en is ons gereed om dit vanjaar weer te doen.”
Met verlede jaar se sesde plek in haar klas in die wêreld wat aan Evangelenah Zoe Karagiannis hope selfvertroue en trots besorg het, is die jong danseres van Bapsfontein weer na Engeland op pad waar sy Suid-Afrika sal verteenwoordig.
Evangelenah (14), beter bekend as Eva, het weer gekwalifiseer om in Junie aan die vrystyl wêreldkampioenskap in Blackpool, Engeland, deel te neem.
Soos berig in Streeknuus (15 Julie 2022), het Eva verlede jaar uitstekend gevaar toe sy op 13-jarige ouderdom ’n sesde plek in die wêreld, ook in Blackpool, behaal het.
Eva het reeds op ’n baie jong ouderdom gewys dat ritme en dans vir haar natuurlik kom (Streeknuus, 1 April 2022).

“Ek het haar reeds op sewejarige ouderdom by die Dynamic Dance Studio in Benoni ingeskryf,” het haar ma, Melissa Maritz, gesê.
Eva doen haar skoolonderrig as Graad Nege leerder deur die aanlyn skool, Teneo, wat haar uiteraard ook in staat te stel om te kan oefen en aan kompetisies deel te neem.
“As ouers is ons geweldig trots op Eva. Die ervaring wat sy verlede jaar gehad het, het haar ’n geweldige sprong in selfbeeld en selfvertroue gegee,” het Melissa gesê.
“Voor die kompetisie van verlede jaar was Eva maar nog bang en onseker. Die ervaring van die kampioenskap in 2022 was baie motiverend en dit het haar beslis tot groter hoogtes gemotiveer.
“Daar was maar baie duwweltjies in die pad en dit was verseker nie elke dag maklik nie, maar met ’n sterk ondersteuningsbasis kon ons die wa deur die drif trek en is ons gereed om dit vanjaar weer te doen.”
LEES OOK: Amanda le Roux van Standerton maak werk van die lot van weeskinders
Volgens Melissa is die grootste struikelblok egter om die genoeg finansies bymekaar te skraap om Eva se droom vir deelname in 2023 te bewaarheid.
“Die koste vir Eva se twee kostuums beloop R15 000, dan is daar ook die vliegtuigkaartjies, visums, verblyf in Engeland, die vervoerkoste daar en natuurlik ons etes per dag.”
Volgens Melissa moet daar ongeveer R80 000 ingesamel word.
Melissa het verder genoem dat daar ongelukkig nie dieselfde ondersteuning vir dans, as vir sommige ander sportsoorte, is nie.
“Daar is ook geen ondersteuning vanaf die staat nie en ek hoop van harte dat besighede en individue wat bereid is om Eva te borg, na vore sal kom.”

In Eva se eie woorde: “Verlede jaar se kompetisie het my laat besef hoe bevoorreg ek is om Suid-Afrika in ’n ander land te kon verteenwoordig. Dit het my baie trots gemaak.
“My selfvertroue het nuwe hoogtes bereik, ek is ‘straatslim’, ek twyfel nie meer in myself nie, maar gló eerder nou in my eie vermoë om selfs nog hoër hoogtes te bereik.
“Ek is ongelooflik dankbaar vir die borge wat dit verlede jaar vir my moontlik gemaak het om Suid-Afrika in Engeland te kon verteenwoordig en hoop en glo dat ek dit weer sal kan doen en ek is verewig dankbaar vir die geleentheid. Ek weet verseker dat niks onmoontlik is nie.”
Eva het ook haar ouers, familie, vriende en afrigters bedank vir hul volgehoue ondersteuning op die pad na haar drome.
Borge wat belangstel om in Eva se droom te belê, kan hul bydrae in die volgende rekening betaal:
FNB
Youth Account
Evangelenah Z Karagiannis
Rekening nommer: 6284 282 0088
Takkode: 25 07 24.



