Laerskool Cullinan baat by myn se projek
Plaaslike laerskool kry nuwe tuine, klaskamers ens.
Laerskool Onverwacht op Cullinan kry ’n nuwe administratiewe blok, parkeerterrein en tuine, en as alles volgens plan verloop, behoort dit teen Junie voltooi te wees.
Dit vorm deel van Cullinan Diamantmyn (CDM) se gemeenskapprojek.
Klaskamers is reeds oorgebou en inwoners in die gebied baat ook by dié werskeppingsgeleentheid.
“Ek is trots op die vordering wat gemaak word en dit is alles te danke aan die projekbestuurspan, die gemeenskap-skakeloffisier en die bouers wat doeltreffend saamwerk,” het Wyk 100 se raadslid, Johannes Bekker, gesê.
Die gemeenskap is volgens Bekker in hulle noppies en sien uit om die eindproduk te aanskou.
“Dié inspuiting van CDM wys hul onbaatsugtige bydraes teenoor gemeenskappe in Wyk 100.”




