ATKV op Secunda vereer mense wat ’n verskil maak
Bestuur moedig inwoners aan om by ATKV aan te sluit.
Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Kosmosrand-tak het op 13 April ’n kuier-aand aangebied en raakvattes in die gemeenskap vereer.
Die mense in die gemeenskap wat toekennings van erkenning vanaf Tracey van Wyk, die voorsitter van die Kosmosrand-tak ontvang het, is soos volg:
• Liné de Vries vir haar bydrae tot gemeenskapsprojekte en bereidwilligheid om altyd te help.
• Joani van Heerden van ’n plaaslike tuisnywerheid wat altyd bereid is om koeke en eetgoed vir kinders in veilige bewaring te skenk.
• Estelle Coetzer wat Janelle Huis begin het vir al haar liefde, geduld en omgee vir weerlose kinders.
• Mari Louw (streeksbestuurder van die SAVF) vir die werk wat sy doen onder mishandelde kinders en haar hart wat sinoniem is met omgee.
• Robbie en Melanie Becker vir hul passie en positiewe gesindheid teenoor minderbevoorregte kinders.
• Amarentia Roos vir die borduurwerk wat sy doen op trooskombersies wat aan die kinders gegee word.
• Pieter Coetzee wat altyd help met herstelwerk by Janelle Huis en nooit huiwer om skenkings te gee vir pieknieks nie.
• Mariaan Chamberlain (DA-raadslid) wat uit haar pad gaan om inwoners op hoogte te hou van wat aangaan tydens kragonderbrekings of ander munisipale problem en dinge op Secunda laat gebeur.
Die ATKV se streeksverteewoordiger, Magon Mouton, het gepraat oor van die projekte waarmee die ATKV tans besig is.
Een van dié projekte sluit in ’n voedsel sekerheidsprojek waartydens die ATKV-lede of vrywilligers inwoners leer hoe om groente-tuine te maak sodat dit hulle die geleentheid bied om groente en vrugte uit hul eie tuine te kry.
Een van die ATKV se grootste fokuspunte is lees.
Die ATKV se Kosmosrand-tak het onlangs hul leesprojek van stapel gestuur waar hulle boekhuises by drie punte op Secunda opgerig het.
Belangstellendes kan dan boeke by dié punte gaan haal, dit lees en later weer terugplaas of vervang met ’n ander boek.
“Ons baklei nie vir Afrikaans nie, ons bevorder Afrikaans en wil in verskeie gemeenskappe ’n verskil maak,” het Mouton gesê.
Belangstellendes wat by die ATKV se Kosmosrand-tak wil aansluit kan Van Wyk by 074 103 6381 skakel.



