Local news

Douwna van Standerton vertel meer oor haar agtergrond

Douwna en haar eggenoot, Hans, bly in die huis op die plaas wat destyds vir die verfilming van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides gebruik is.

’n Hoogsgekwalifiseerde onderwyser met behoudende waardes se vaardighede word nou by Standerton Akademie voluit benut.

Die vermanende woorde van haar destydse skoolhoof by Hoërskool Standerton dat sy ’n onderpresteerder is, is nek omgedraai.

“Meneer, ek wil ’n gebalanseerde lewe lei,” was Douwna Roussou se antwoord aan doktor LA du Toit Moolman.

“Ek wil nie net voor die boeke wees nie.”

Volkspele, sing in die koor, sokkie op ’n Vrydagaand en doelwagter vir die hokkiespan het deel gevorm van haar betrokkenheid by SHS.

Douwna het by die destydse Normaal Kollege in Pretoria haar onderwysdiploma verwerf, by Unisa in 1994 ingeskryf en twee jaar later ’n BA verwerf met die hoof vakke Afrikaans, Geskiedenis en Opvoedkunde.

Dit is gevolg met ’n B.Ed-graad, ook deur Unisa, voor sy begin werk het aan haar meestersgraad by die Universiteit van Johannesburg (voormalige Rand Afrikaanse Universiteit) en uiteindelik met ’n doktoraal in opvoedkunde by die Universiteit van Johannesburg kon spog.

“Toe die gogga my gebyt het, het dit momentum gekry,” het Douwna gesê.

“Studeer was ’n uitlaatklep en ’n stokperdjie.”

Hoe ouer sy geword het, hoe meer kon sy haar ervaring in haar studies terugploeg.

Douwna en haar eggenoot, Hans, bly in die huis op die plaas wat destyds vir die verfilming van PG du Plessis se Fees van die Ongenooides gebruik is.

Dit het alles by die foto van die nonnetjiesuile begin, wat in die solder van die huis opgemerk is. Haar jarelange vriendin, Debbie Rautenbach, het dit vir haar aangestuur.

“Ek wil daar gaan bly,” het sy oombliklik besluit.

“Ons het rus en vrede nodig.”

Dié huis het vir 50 jaar leeggestaan, maar elke sinkplaat was nog op sy plek. Douwna en Hans het skaars ’n week later besoek op Standerton afgelê en die res is geskiedenis.

Haar huwelik met Hans was ook uit die boeke. “Ek het hom die Vrydagaand ontmoet, die Saterdagaand het hy my gevra om te trou, ouers is gevra en ons is vyf maande later getroud,” het sy die blitsromanse beskryf.

Hulle sal in Julie 40 jaar getroud wees. Haar loopbaan het verskeie kinkels gegooi.

Sy was betrokke by verskeie laerskole in Pretoria, die Curro-skool in Soshanguve, Departement van Onderwys vir 17 jaar as taalpraktisyn, RAU vir vier jaar as eksamenkoördineerder en by militêre intelligensie waar sy onderhoude gevoer het met persone wat geheime klarings moes kry vir aanstellings.

Sy het ook vir verskeie instellings integriteitsondersoeke gedoen om die afpersbaarheid van personeel te bepaal.

Douwna kry voorts energie uit die natuur. Die Kliprivier op die plaas wat ’n klipgooi ver is, bloekombome, sonsondergange en voëltjies se getjirp spreek tot haar.

Fotografie is ’n gedeelde belangstelling van haar en Hans. Douwna is nie uitgeknip vir die rol van naaldwerker en bakker nie, maar het beertjies begin brei vir kinders wat nie liefde ken nie.

“Ek het dit vir ’n doel, met ’n doel gedoen.”

Moet nie verbaas wees as sy weer inskryf vir studies nie. “’n Mens is nooit te oud om te leer nie,” het sy afgesluit.

“Arbeid adel.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button