Tanya Prinsloo hou gholfdag ten bate van Delmas se bejaardes
Aan die einde van die kompetisie was Adriaan Benadie en JC Jordaan as die wenners aangewys, met Tanya Prinsloo en Nico Prinsloo in die tweede plek. Morné Lourens en Egon Seidel behaal die derde plek.
Adriaan Benadie en JC Jordaan is die wenners van die Toyota Knights gholfdag wat op 12 Mei by die Delmas Gholfklub plaasgevind het.
Dié gholfdag is deur Tanya Prinsloo gereël om geld vir Ons Eie Ouetehuis op Delmas in te samel.
Prinsloo, Delmas se eie Toyota Knight, is lank reeds bekend op Delmas vir die werk wat sy doen om geld vir behoeftige instansies in en om Delmas in te samel.
Die gholfspelers het om 10:00 afgeslaan en dit was gou duidelik dat die kompetisie groot was.
Aan die einde van die kompetisie is Benadie en Jordaan as die wenners aangewys met Tanya Prinsloo en Nico Prinsloo in die tweede plek. Morné Lourens en Egon Seidel was derde.
Na afloop van die prysuitdeling is ’n veiling gehou waartydens spelers en besoekers op rugby-, gholf- en Formule 1-memorabilia kon bie.
Ook die inkomste hieruit het ten bate van die geldinsameling gaan. Prinsloo het die borge bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.
“Dankie ook aan die Delmas Gholfklub vir die gebruik van hul hul baan en klubhuis.”
“Baie van die vierballe het ongelukkig gekanselleer en dit was ’n groot teleurstelling vir my, maar vir elkeen wat gespeel, geborg en bygedra het om steeds van die dag ’n sukses te maak, wil ek dankie sê,” het Prinsloo gesê.
Teen druktyd was van die bedrag wat hulle ingesamel het nog uitstaande, maar Prinsloo glo sy het die R38 000 waarop sy gereken het behaal.
Prinsloo beoog om ’n skool in Botleng se vensters te verf en stukkende ruite te vervang en die balans aan Ons Eie Ouetehuis te oorhandig.












