VF+ het planne om Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit se finansies te verbeter
“VKLM se finansiële posisie is volgens my mening besig om met rasse skrede te verswak.”
Tydens ’n munisipale raadsvergadering het raadslid Pieter Senekal van die Vryheidsfront Plus planne ter tafel gelê in ’n poging om die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) uit sy benarde finansiële staat te probeer red.
Die raadsvergadering was op 25 April gehou.
Volgens Senekal het hy die dringendheid vir die hou van ’n slypskool (werkswinkel), rakende die besinning van VKLM se finansiële posisie, voorgehou en het die raad ingestem dat daar binne twee weke bevestiging vir dié spesiale vergadering, oftewel slypkool, sou wees.
“VKLM se finansiële posisie is volgens my mening besig om met rasse skrede te verswak,” het Senekal aan Streeknuus meegedeel.
“Ek was ook reeds in die afgelope maande met die hoof van finansies hieroor in gesprek. Op ’n vraag aan Senekal oor wat die doel van so ’n slypskool sou wees het hy geantwoord, “Die doel van hierdie oefening moet wees om VKLM se skuldboek, wat maandeliks astronomies toeneem, om te keer en drasties te laat afneem en die inkomste met betrekking tot diensgeld te verhoog sodat daar geld beskikbaar kan wees vir die betaling van salarisse en dienste gelewer kan word.”
Volgens Senekal is dit ook nodig dat VKLM moet wegbeweeg van ’n begroting geskoei op ’n ongefinasierde begroting na dié van ’n goed beplande en gefinansierde begroting.
“Dit is die enigste manier waarop sukses vir die toekoms gebou kan word. Sedert ek as raadslid vir die VF-Plus benoem is dit my oortuiging dat ek probleme van binne die munisipaliteit moet aanpak.
“Vandaar die voorstel om ’n slypskool te bewerkstellig waartydens die finansiële beleid in diepte bespreek kan word.”
Volgens Senekal sou so ’n vergadering of slypskool ’n beter uitkoms hê as om heeltyd kritiek van buite te lewer.
Teen druktyd het Senekal aan Streeknuus bevestig dat die raad van VKLM nog nie ’n datum vir dié voorgestelde slypskool gegee het nie.



