Delmas-VLU leer van tamaties as wondervrug
Tamaties is ryk aan likopeen en vitamiene C wat positiewe gesondheidseienskappe kan bevorder. Vars tamaties bevat sowat 90% van die likopeen wat deur die liggaam opgeneem moet word.
Met die tamatie as vrug van die jaar was dit dan ook die Vroue Landbou-unie (VLU) op Delmas se hoofbespreking tydens hul pas afgelope vergadering.
Die groep vroue het op 16 Mei by We Meat Again op Delmas vergader.
“So tussen al die mooi blomme en geskenke het daar ’n gesellige atmosfeer geheers,” het Magriet Swart, skakelbeampte van Delmas-tak, gesê.
Gaste wat kom oë wys het, is Francis Theron, Susan Combrink en Alta Bothma. Francis Theron het die lede die tegniek van Tunisiese hekelwerk gewys.

Ansie van Zyl was aan die beurt met demonstrasies oor maklike versierings met tamaties wat uitgeholde tamaties as prag slaaisoushouertjies tot hartjie- en rosie-tamaties vir die bord van ’n geliefde ingesluit het.
Uiteindelik was dit ook tyd om te leer oor die tamatie; is dit dan vrug of groente?
Die voorsitter, Marié Terblanche het interessante en leersame inligting rondom tamaties gedeel, onder andere dat die tamatie onder die familie Solanacea, ook bekend as die aartappelfamilie val, waaronder aartappels, tamaties, soetrissies, paprika, brandrissies asook tabak, sorteer.
“Die spesie waaronder tamaties bekend staan is Solanum lycopersicum, ” het Terblanche verduidelik.
ALSO CHECK: Landsdieners help om waterhiasinte uit Secunda Eendedam te haal
“Die blomme is gerangskik in bloeiwyses wat blomtrosse genoem word en hulle is selfbestuiwend, wat beteken dat daar nie nog ’n plant nodig is om te kan vrug dra nie”.
Die tamatie is ’n sagte bessie waarvan die vorm verskil nagelang van die variëteit. ’n Bessie is ’n vrug van ’n kruidagtige of struikagtige plant met sappige vleis en sade binne-in.
“Tamaties voldoen volledig aan hierdie definisie. Dit is dus veilig om te sê dat ’n tamatie ’n bessie is wat gebruik word as ’n groente,” het Terblanche bygevoeg.
Tamaties is verder ryk aan likopeen en vitamiene C wat gesondheid kan bevorder. Vars tamaties bevat sowat 90% van die likopeen wat deur die liggaam opgeneem moet word.

Volgens Terblanche is dit is verder ’n kragtige anti-oksidant wat nuttig is om die mens teen degeneratiewe siektes soos Alzheimer’s, diabetes, hartsiektes en kankers soos dikderm en prostaatkanker te beskerm.
Dit verminder ook asma simptome deur inflammasie in die lugweë te verminder en het verder ook ’n anti-fungale effek.
“Tamaties is ook goed vir die oë danksy die karoteen en luteien wat daarin voorkom.
“Heeltemal gepas om ons leuse dan, ‘A tomato a day keeps the doctor away,’ te maak,” het Terblanche afgesluit.



