Local news

Secunda-dogter wat uitreik na Marno Muller, het self nou hulp nodig

Luané Serfontein (8) het onlangs 'n beroerte gehad.

Luané Serfontein (8), ‘n leerder aan Laerskool Goedehoop wat verlede jaar gehelp het om strikkies te verkoop vir Marno Muller se hospitaalonkostes, het nou self hulp nodig.

Die Ridge Times het verlede jaar in Junie berig hoe Marno se storie Luané geraak het nadat sy dit op sosiale media gesien het. Marno, die vyfjarige kleuter van Brakpan het in Mei verlede jaar by sy kleuterskool seergekry toe sy kappie se toutjie aan die glyplank vasgehak het.

Luané het verlede jaar altesaam R17 000 vir Marno ingesamel.

Rika Serfontein, Luané se ma, het drie weke gelede gesien Luané gebruik nie haar linkerhand as sy aantrek of enige iets doen nie.

“Sy het gesê haar hand is seer toe ek het vir haar gevra hoekom sy dit nie gebruik nie,” het Serfontein vertel.

Haar ma het haar dokter toe geneem en hy het gesê dit lyk asof sy ‘n beroerte gehad het.

Die algemene praktisyn het haar na ‘n kinderdokter op Trichardt verwys wat bevestig het dat Luané defnitief ‘n beroerte gehad het.

Sy het vir ‘n rekenaartomografie (CT) skandering en x-strale na die staatshospitaal in Witbank gegaan omdat die gesin nie ‘n mediese fonds het nie. Die skandering het bevestig dat Luané ‘n beroerte gehad het wat veroorsaak is deur ‘n bloedklont op die brein.

“Hulle wou haar toe sommer opneem vir spraakterapie, maar ek het vir hulle gesê daar is niks fout met haar spraak nie,” het Serfontein gesê.


LEES OOK: Secunda-dogtertjie maak hart oop vir Marno


Luané het toe nog ‘n ander dokter by Witbank Hospitaal gesien wat bloedtoetse gedoen het. Hy het gesê het Luané moet hom oor twee weke weer gaan sien.

Sedert Luané die beroerte gehad het word sy vinnig moeg en kry gereeld hoofpyne.

Vriende van die gesin het ‘n bandjie-projek begin waar hulle nou bandjies verkoop om geld in te samel vir Luané se mediese onkostes as sy weer ‘n privaat dokter moet gaan sien of vir verdere behandeling wanneer die gesin weet watse behandeling sy sal moet kry.

Die organiseerder van die projek verkoop vier bandjies vir R120.

Vir meer inligting skakel haar by 078 249 1971 of skakel Rika Serfontein by 071 642 5843.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button