Hervormde Kerk op Delmas se Voetspoorfees 2023 lok menige voete
Soos dit enige behoorlike kerbasaar betaam, was daar meninge stalletjies met eetgoed vir elke smaak. Besoeker kon na hartelus smul aan kerrie en rys, pap en wors, vetkoek en wat sou ’n basaar dan wees sonder pannekoek.
Dit word nie verniet die Voetspoorfees genoem nie, want voete was daar in oorvloed tydens dié gewilde kerkbasaar.
Die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) op Delmas het op 27 Mei hul immergewilde Voetspoorfees aangebied.
Soos dit enige behoorlike kerkbasaar betaam, was daar meninge stalletjies met eetgoed vir elke smaak. Besoekers kon na hartelus smul aan kerrie en rys, pap en wors, vetkoek en wat sou ’n basaar dan wees sonder pannekoek.
Boerbeskuit, koeksisters, vars gebak, ’n poedingtafel en lekkergoedstalletjie het in oorvloed vir die soettand voorsiening gemaak.

Die Voetspoorfees se biltong- en wynstalletjie het, soos in die verlede, ook weer baie voete gelok. Aktiwiteite het ingesluit ’n mallemeule, springkasteel en inkleurkompetisie vir die kleingoed.
Die meganiese bul het vir groot vermaak onder oud en jonk gesorg. Verskeie kleuterskole het ook weer prag pom-pomopvoerings gelewer en pappa’s, mamma’s en grootouers het nie die oomblik gemis nie.
Die gimnastiekspan van Delmas se Gimnastiekklub het ’n optrede gehou en talent was volop.
Soladiriteit se Ons Winkel op Delmas het ook ’n stalletjie gehad en besoekers kon na willekeur gratis uit ’n baie groot verskeidenheid boeke kies en keur.

Nico Booijse het as seremonimeester opgetree en ook besoekers met sy lewendige sangoptrede vermaak.
Die fees is afgesluit met ’n toutrek-kompetisie.
Die NHK-vrouespan se oposisie het nie opgedaag nie, maar daar was sommer vinnig ’n span vanuit die besoekers saamgestel.
Hier het die NHK-span sommer gou gewys wie is baas en gewen.

Tydens die mans se kompetisie was die brute krag van die manne skynbaar net te sterk en het die tou onverwags gebreek.
Na verskeie onsuksesvolle pogings om die tou te las, moes die spanne bes gee en het hulle dan gelykop geëindig.
“Baie dankie vir ’n genotvolle en suksesvolle Voetspoorfees. Dankie vir elkeen se harde werk en moeite, dankie ook vir die lekker gees en vriendskap.
“Tydens 2023 se Voetspoorfees het ons in die voetspore van Christus geloop,” het doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde kerk op Delmas gesê.









