Vyfjarige van Bronkhorstspruit leer ken die wonderwêreld van klank na kogleêre inplanting
Klein Bioné se gehoor was in so ’n mate geaffekteer dat sy as geskikte kandidaat vir ’n kogliêre inplanting gekwalifiseer het.
Spontane lag, babbel en uit volle bors sing, was die vyfjarige Bioné van Vollenstee van Bronkhorstspruit se reaksie toe die wêreld van klank skielik vir haar oopgegaan het.
Bioné kon so onlangs as 30 Junie vir die heel eerste keer hoor.
Volgens die skoolhoof by die Nooitgedacht Akademie, Quintilla de Vries, het Bioné aan die begin van die jaar by hul skool as Graad RR-leerder aangesluit.
“Reeds vanaf die eerste dag het ons personeelkorps besef dat Bioné gehoorprobleme ondervind en het ons daarop aangedring dat haar ouers haar vir gehoortoetse neem,” het De Vries gesê.
Volgens De Vries het Ceri en Alexi Yannoulatos onmiddellik aan die werk gespring om die proses vir hulp vir Bioné in werking te stel.

Die Yannoulatos-egpaar het ’n vriendin, die oudioloog, Christelle Ferreira, werksaam by die Oorinstituut genader en as weldoeners daarop aangedring om vir die konsultasiefooi te betaal.
Die afspraak het op 26 Junie gebeur en die bevinding was skokkend. Klein Bioné se gehoor was in so ’n mate geaffekteer dat sy as geskikte kandidaat vir ’n kogleêre inplanting gekwalifiseer het.
“Ongelukkig beskik Bioné se ouers nie oor ’n mediese fonds nie. Staatshospitale akkommodeer dié operasies slegs vir kinders tot en met die ouderdom van twee jaar,” het De Vries bygevoeg.
Volgens De Vries het sy dadelik werk gemaak en vir Pieter de Vries om hulp genader. Pieter het ingestem om die skenking vir die kostes van Bioné se kogleêre inplanting te maak.
Die operasie is op 30 Junie gedoen en die vyfjarige dogtertjie kon vir die eerste keer hoor.

“Dit was ’n belewenis. Ek sou kon boekdele skryf oor Bioné se gesiggie toe ons daardie apparate vir die eerste keer aangeskakel het.”
De Vries vra die publiek om betrokke te wees by dié tipe skenkings.
“Weens die goedmoedige betrokkenheid in Bioné se geval kon ons vir haar’n toekoms van normale ontwikkeling verseker.”
“Ceri en Alexi was ’n tipiese voorbeeld van betrokkenheid en omgee. Hulle het hierdie uitdagende probleem, wat soos ’n berg voor hulle gelê het, met ywer aangepak.”
LEES OOK: Clinix in Cullinan creates employment opportunities for Refilwe Youth
De Vries bedank Ceri en Alexi, Pieter de Vries, die Oorsintituut en die personeel van die Nooitgedacht Akademie, wat tot hierdie suksesverhaal bygedra het.
“Daar gebeur tóg nog wonderwerke.”
Nooitgedacht Akademie het ook ’n skenkingsrekening vir Bioné geopen, wat vir batterye vir Bioné se gehoorstukke aangewend sal word.
Nooitgedacht Akademie wil ook graag vir Bioné ’n Lingi-beertjie aankoop wat haar sal help woordjies aan te leer.
Vir meer besonderhede kan dié skool by 083 951 8191 of per e-pos admin@edu-ilearn.africa gekontak word.



